Local newsSchools

Sewe onderskeidings vir matrikulant ten spyte van uitdagings

Ten spyte van huislike omstandighede wat soms uitdagend was, het Ankia as een van Hoërskool John Vorster se top presteerders gematrikuleer en is nou op pad Tukkies toe waar sy vir aktuaris gaan studeer.

Ankia van der Merwe het haar matriek aan die Hoërskool John Vorster met sewe onderskeidings geslaag ten spyte van uitdagende omstandighede.

Ankia het grootgeword in Devon. In haar Graad 9 jaar het haar ouers uitmekaar gegaan en het sy het saam met haar ma, jonger sussie en ouer broer na Nigel verhuis.

“Ek het nooit regtig moeite gedoen om hard te leer nie,” het Ankia vertel en bygevoeg dat finansies vir haar ma, wat toe ‘n enkelouer is, knap was en sy het besef dat om êrens te kom, sy baie hard sou moes leer.

“Ek het besef dat die enigste manier vir my om ooit op universiteit te kom, was om my beste te gee en te sorg dat ek ‘n beurs kry.

“In Graad 9 was ek nog op ‘n ‘kry myself jammer’ fase maar vanaf Graad 10 het ek begin moeite insit en hard geleer,” het sy vertel.

Ankia was in Graad 10 en Graad 11 die top leerder in die graad en in Graad 12 aangewys as die Dux leerder.

“Ek het ‘n doelgerigte besluit geneem om te presteer want kennis is krag en dit is iets wat niemand van my kan wegvat nie,” het Ankia vertel.

Ondanks die uitdagende omstandighede van geskeide ouers en die uitdagings wat daarmee gepaardgaan, het haar vasberadenheid, deursettingsvermoë, en selfdissipline haar in staat gestel om akademiese uitnemendheid te behaal.

Ankia van der Merwe het sewe onderskeidings behaal ondanks uitdagende huislike omstandighede.

Ankia het lang ure ingesit om te studeer, trane gestort en was baie keer angstig maar sy het voordeel getrek uit enige geleentheid om ekstra hulp of ondersteuning te kry, hetsy van onderwysers of deur gratis studiemateriaal aanlyn te gebruik.

Sy het ook vertel om ou vraestelle deur te werk beslis gehelp het.

Haar situasie het haar ‘n dieper waardering gegee vir die waarde van opvoeding en die geleenthede wat dit kan bied.

Ankia het nooit toegelaat dat haar persoonlike stryd haar weerhou van haar doelwitte nie.

Sy het ‘n passie vir syfers en vertel dat sy wiskunde verstaan.

“Ek raak gou verveeld en wiskunde is ‘n uitdaging wat ek geniet,” het sy gesê.

Dit is ook die rede agter haar besluit om vir aktuaris te gaan studeer aan die Universiteit van Pretoria.

“Ek is geseënd om ‘n beurs te kon kry vir my eerste jaar, het ‘n rekenaar as ‘n geskenk gekry en mense het hul woonstel vir my oopgestel,” het sy vertel.

Met ‘n gemiddeld van 90% het sy as een van die top presteerder by Hoërskool John Vorster gematrikuleer.

“Ek is opreg dankbaar vir my binnekring wat my deur alles gedra het.

“My ma Liezel, broer Izak, sussie Zandri en vriende wat familie geword het, Janine en Riaan van Heerden, hul kinders Annah en Janah asook Tanya Pieterse.

“Elkeen het ‘n groot rol in my lewe gespeel en ek is hul ewig dankbaar,” het Ankia gesê. Sy het bygevoeg haar ouers is steeds in ‘n uitgerekte skeisaak betrokke, maar elkeen in haar binnekring het haar gehelp om van vrees en angs na haar ouers uitmekaar is te verander na ‘n rustige mens met ‘n helder toekoms.

Ankia se storie is ‘n inspirasie vir baie, wat wys dat met vasberadenheid en harde werk, sukses moontlik is, ongeag die omstandighede.

“Maak staat op dié wat jou ondersteun en wil help, wees doelgerig om te presteer en moet nooit dat jou omstandighede jou onderkry nie,” het Ankia afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button