Prontuit: Saam maak ons onself en die dorp beter en sterker sê nuwe inwoner
Die rustigheid van die dorp, die voëls wat jou wakker sing en die sterre in die aand is van die dinge wat Gideon die meeste geniet in Heidelberg.
Die HERAUT het die week een van Heidelberg se nuwe inwoners ontmoet.
Gideon Vorster (37) het op 20 Desember 2024 Heidelberg sy permanente tuiste gemaak.
“Heidelberg is uniek en ‘n pragtige dorp. Mense hier het goeie waardes en dit is ‘n plek waar mense aan hul toekoms kan bou ongeag waarvandaan jy kom,” het Gideon vertel.
Gideon het in Brandfort met skool begin en deel van sy skool loopbaan in Ierland en Skotland voltooi.
Hy het vir die laaste dekade in groot stede onder andere Asië gewoon, dus vind hy die stilte en rustigheid van Heidelberg aangenaam.
Hy sê wat hy die meeste van hou in die dorp is om laat middae te gaan stap, en om wakker te word met ‘n hele klomp voëls wat jou wakker sing.
“Ek bewonder myself soms aan al die sterre in die lug,” het hy gesê.
Gideon se pad tot by Heidelberg is indrukwekkend.
Dit sluit in ‘n agtergrond in onderwys, besigheid, sosiale bemarking en kopieskryf, asook ‘n BA graad in besigheid van Queens Universiteit in Belfast, Noord-Ierland en ‘n meestersgraad in sport wetenskappe wat hy in Texas verkry het.
Oefening en stap is deel van sy ontspanning en die Suikerbos staproete was tot dusvêr vir hom en sy gesin die lekkerste.
“Ek hou van lees en studeer steeds deeltyds maar soos baie mans, sny ek gras en help maar waar ek kan by die huis,” het hy vertel.
Gideon en sy gesin het die vakansie by hul huis in Heidelberg deurgebring en volgens hom was dit die perfekte besluit want hulle kon rustig die dorp leer ken.
“Ons bly in een van die mooiste dorpe en in ‘n gemeenskap waar mense mekaar groet en laat welkom voel,” het hy gesê en bygevoeg dit is belangrik om tyd vir mekaar te maak.
“Gaan gesels en leer jou bure ken. Ons, as die mense in die dorp, is op die einde van die dag die enigstes wat die dorp mooier, sterker en beter kan maak en ‘n mens kan dit nie doen as jy nie met mense wil meng nie en ook nie van jou rusbank af nie.
“Gaan uit, kry vars lug, maak nuwe vriende en leer jou dorp ken. Saam maak ons onself en die dorp beter en sterker.” het Gideon afgesluit.



