Aktiwiteite by die Heidelberg Rolbalklub is reeds volstoom aan die gang.
Die klub se bestuur en lede is reg vir die nuwe jaar se vol program.
Klublede het alreeds die eerste balle gerol tydens die interne klub kampioenskappe.
Dié kampioenskappe word op Woensdae en Saterdae gespeel.
Vrydae word daar sosiale rolbal van 15:00 af gespeel en die gemeenskap word uitgenooi om hul rolbal vernuf op die proef te gaan stel.
Daar is geen koste verbonde aan die sosiale rolbal nie, tensy verversings aangekoop word.

Die Heidelberg Rolbalklub gaan ook deur die seisoen gasheer speel vir die Dames Nasionale Rolbaltoernooi wat in Gauteng gaan plaasvind.
Nog ‘n hoogtepunt op die klub se kalender is die twee besigheidsliga uitdagings wat ook sal plaasvind in Maart en Oktober.
“Ons hoop is om hierdie jaar te groei en dat ons ledetal sal toeneem.
“Dit kan begin by die sosiale Vrydae. Rolbal is ‘n sport waar jonk en oud saam kan speel en die tyd saam kan geniet,” het Herman van der Merwe, visie-voorsitter van die Heidelberg Rolbalklub gesê.
Persone wat meer inligting wil bekom kan vir van der Merwe by 082 576 4525 of Elmarie Eygelaar (voorsitter) by 082 561 0441 kontak.
Die rolbalklub se bane is geleë by die Unie Sportveld in Viljoenstraat.




