Gewilde eetplek sluit deure weens gebrek aan krag
Jare-lange dispuut lei tot hartseer besluit.
Die Adlers Restaurant, wat in die Heidelberg Erfenis Museum vir die afgelope vyf jaar duisende voortreflike maaltye bedien het se deure is nou finaal gesluit.
Talle struikelblokke het daartoe bygedra dat die eienaars van die restaurant, Juanita en Vendi Klaushöfer Heidelberg vaarwel moes roep.
Daar is glo ‘n lopende dispuut tussen die eienaars, die Lesedi Plaaslike Munisipaliteit (LPM) en die beherende liggaam wat die museum bedryf, wat al verskeie jare duur.
Dit het genoodsaak dat LPM die kragtoevoer na die perseel in Junie 2024 afgesny het.
Sedertdien is kragopwekkers gehuur om krag vir die restaurant te voorsien.
Die kragopwekkers moes 24 uur per dag werk weens voorraad wat in die yskaste was en vars moes bly.
Dit het veroorsaak dat verskeie kragopwekkers uitgebrand of onklaar geraak het.
“Die kostes om die kragopwekkers aan die gang te hou het op die ou einde te veel geword en ons het op ‘n verlies begin werk” het Vendi gesê.
Die LPM het op 6 Januarie ‘n brief aan die museum se beheerliggaam gestuur waar hulle in kennis gestel word dat alle bedrywighede op die perseel op 31 Januarie 2025 gestaak moet word.
Dit het genoodsaak dat die Klaushöfers die besluit geneem het om hulle deure finaal toe te maak.
“As eienaars van die restaurant het ons het direk met LPM gaan praat om die restaurant te bedryf en krag te herstel maar dit was glo nie ‘n opsie nie,” verduidelik Juanita.
“Ons kan dit net nie meer bekostig om aan te hou nie en moes ‘n besigheidsbesluit neem. Daarvolgens het ons die personeel in kennis gestel van ons besluit en dat hulle afgelê moet word. Ons het ons tyd hier in Heidelberg baie geniet en baie van die gaste het Adlers familie geword.
“Ons gaan dit beslis baie mis,” het Juanita gesê.
Die Klaushöfers het verskeie aanbiedinge gekry om die restaurant van ander persele af te bedryf maar die onkoste en die finansiële impak daaraan verbonde laat dit nie toe nie.
Al die toebehore en eiendom van Adlers Restaurant gaan vir tyd en wyl terug Hammanskraal toe waar dit gestoor gaan word.
“Ons gaan eers ons huis hier in Heidelberg in die mark sit en sodra dit verkoop is sal ons besluit wat ons volgende stap gaan wees.
“Ons wil net vir elkeen wat ons ondersteun het in die tyd in Heidelberg baie dankie sê; ons waardeer dit uit die diepte van ons harte uit,” het Juanita mee afgesluit.
Die HERAUT het met Bouwe Wiersma van die Heidelberg Heritage Beer Festival CC rakende die kwelpunte gepraat.
Dit is bevestig dat daar probleme is tussen LPM en die manier wat hulle die krag afgesny het.
Daar is al wel ‘n brief (gedateer 22 Januarie) aan LPM gestuur om beswaar te maak teen die wyse waarop alles gedoen is en ‘n mosie van geen vertroue in die munisipaliteit en hulle doen en late.
“Ons wag vir terugvoering op die brief. Ons is al van 2016 in geveg met Lesedi munisipaliteit en die laaste kennisgewing is ‘n geweldige slag vir Heidelberg en sy mense. Ons is nie reg om die witvlag te hys nie en sal doen wat ons kan om te verseker dat geregtigheid gaan geskied,” het Wiersma gesê.
Die volledige brief is op die museum se Faceboek-blad.



