Local news

PRONTUIT: Ek lewe vir my medemens en my dorp vertel Melinda

Na 'n traumatiese gewapende roof in 2023 het Melinda en haar man Christo die juweliersafdeling gesluit en die winkel se naam van Diamante en Goud verander na Plaashuiswinkel Mediterreens.

Melinda van der Merwe (66) is nie onbekend nie en mense op die dorp sal haar uitken as die vriendelike gesig by die Plaashuiswinkel Mediterreens (voorheen Diamante en Goud) in Begemanstraat.

Sy het in Pretoria grootgeword as een van sewe dogters en besigheid is in haar bloed.

Sy was skaars 18 jaar oud toe sy die besigheidswêreld betree het.

Sy en haar man Christo het hulle 47 jaar gelede in Heidelberg gevestig.

In 1980 word hulle die eienaars van Diamante en Goud en was vir baie jare geken as juweliers van formaat wat die mooiste juweliersware geskep en verkoop het.

Melinda is lief vir bouwerk, hout en verf en haar hande staan vir niks terug nie.

“Ek lewe vir my medemens en my dorp,” het sy vertel en bygevoeg dat sy betrokke is by vele van Heidelberg Hope se projekte, onder andere ‘Adopt a sidewalk’ waar sy sypaadjies skoon maak en verfraai met vetplante.

“Ons kan baie trots wees op ons mooi dorp, en as elkeen in die dorp sy deel doen om betrokke te raak, sal ons dorp mooi bly,” het sy gesê.

Melinda is ook betrokke by Arts in the Park, Hope Garden en Heidelberg Meander, alles projekte wat die gemeenskap, die dorp en besoekers na die dorp bevoordeel.

Mariette Minnie, Melinda van der Merwe en Marietjie Emslie kuier gesellig in die teetuin by die Plaashuiswinkel Mediterreens.

“Ons is ‘n dorp ryk aan geskiedenis maar min mense weet werklik van ons dorp se erfenis,” het sy vertel, Sy het gesê dit is een van die redes waarom sy so betrokke is en hoekom sy ook inligting by haar winkel het oor die plaaslike besighede en Heidelberg Hope projekte.

“Ek glo elke besigheid in die dorp mekaar moet ondersteun.

“Ek wys graag vir ons kliënte ‘n lys van gastehuise of van die geboue in die dorp met ‘n blou erfenis plaatjie wat hul kan besoek,” het sy vertel.

In Julie 2023, het Melinda en die personeel van Diamante en Goud ‘n traumatiese gewapende roof beleef waar hulle van miljoene rande se juwele beroof is.

“Alles het so vinnig gebeur. Een rower het my met ‘n wapen teen my kop beveel om op die vloer te lê terwyl ek moes toekyk hoe hulle ons beroof,” het Melinda vertel en bygevoeg dat sy en haar personeel erg getraumatiseer was.

“Ek het bly bid vir die Here se beskerming en ek weet Hy het my daardie dag gered vir ‘n doel en ek sal bly leef om Sy Wil en Woord te gehoorsaam,” het sy voortgegaan.

Na die roof het sy en Christo besluit om die juweliersafdeling te sluit en hul winkel ‘n nuwe baadjie te gee met ‘n Mediterreense aanslag.

“Ons het die juweliersfabriek gesluit en die winkel se naam verander na Plaashuiswinkel Mediterreens,” het Melinda vertel.

“Die Plaashuiswinkel is vir ons ‘n plek van rustigheid en vreugde en ‘n ware toevlugsoord vir die siel.
“Kliënte is vir ons familie,” het Melinda gesê en afgesluit met ‘n boodskap van dankbaarheid teenoor die gemeenskap se jarelange ondersteuning.

Om met Melinda in aanraking wil kom om meer te wete te kom oor die Heidelberg Hope projekte waarby sy betrokke is skakel haar by 072 134 1420 vir meer inligting.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button