Heidelberg Rugbyklub bou momentum vir uitdagende seisoen
Die Heidelberg Rugbyklub is hard besig met hulle voorbereiding vir die seisoen.
Spelers is tans besig met proewe om die beste spelers voor te berei vir die verskeie wedstryde asook vir die Merlin Liga.
Die Merlin Liga is deel van die Valke Rugby Unie se ligas.
Die Berge soos Heidelberg Rugbyklub bekend staan, se eerste ronde proewe is reeds afgehandel en word binnekort opgevolg met die volgende sessie.
Mario Jordaan, die klub se hoofafrigter is vol hoop vir die seisoen wat voorlê.
“Die spelers oefen hard en is vol vertroue. Ons weet as ons hard werk is enige iets moontlik. Ons het gesoute spelers asook verskeie nuwe spelers waarop ons kan staatmaak die jaar” sê Jordaan.

Hy het ook ’n uitnodiging gerig aan spelers om by die klub in te skakel en saam te oefen.
“Dit is ‘n lang seisoen en met die vooruitsig dat spelers deur die seisoen beseer word help dit om soveel spelers moontlik tot ons beskikking te hê,” het Jordaan gesê.
Heidelberg se eerste wedstryd van die jaar is op 15 Februarie wanneer hulle Welkom toe reis vir ‘n vriendskaplike wedstryd.
Oefensessies is op Dinsdag- sowel as Donderdagaande van 18:30 tot 20:00 op die Hoër Volkskool se velde.
Vir enige verdere inligting kontak Mario Jordaan by 062 728 2232.




