Dominee verloor weddenskap, slaap op kerk se dak
Jonker het die weddenskap verloor nadat die gemeente hul doelwit oorskrei het en moes sy tent op die kerk se dak opslaan.
Die NG Kerk, Nigel-Oos is ‘n hegte gemeenskap en as hulle iets aanpak, word dit met volharding gedoen.
Die leraar by die gemeente, Riaan Jonker het ‘n onlangs ‘n ongewone weddenskap met sy gemeente gemaak. Hy het belowe hy sal op die kerk se dak slaap as hulle met die kerk se gholfdag R120 000 insamel.
Die gemeente het met groot entoesiasme gereageer, ‘n suksesvolle gholfdag gereël en hul teiken van R120 000 oortref.

Jonker het sy verloor dapper aanvaar en op 31 Januarie sy tent op die kerk se dak opgeslaan, reg om te oornag.
Gemeentelede het hom ondersteun met ‘n gemeente saamtrek, musiek en ‘n spitbraai.
Sowat 160 mense het ‘n ‘dak-braai’ gehou terwyl Jonker saam met hulle dit vanaf die kerk se dak af geniet het.
Alhoewel ‘n reënbui uitgesak het en Jonker kwytgestel was van sy oornag op die dak, het sy daad van toewyding en sin vir humor die band tussen hom en die gemeente net nog sterker gemaak.

“Ons is dankbaar vir elkeen se toewyding tydens die fondsinsameling en die samesyn van die gemeente tydens die dak-braai,” het Jonker gesê.
Hy het bygevoeg dat hy enige tyd weer so weddenskap sal maak maar dat hy effens bly is sy beddegoed het natgereën en hy kwytgestel was.
Die dak braai was ‘n wonderlike saamkuier geleentheid en beslis iets wat hy en die gemeente weer sal aanpak.



