Local news

PRONTUIT: Ashleigh is die stil krag agter die skerms wat alles seepglad laat verloop

Een van die hoogtepunte in haar werk is die werksreis in 2024 na Portugal, waar sy deel was van ‘n internasionale projek.

Die HERAUT het dié week met een van Heidelberg se dinamiese jong vroue gesels.

Ashleigh Labuschagne (21) is ‘n gebore Heidelberger en het aan die Hoër Volkskool matrikuleer.

Sy is ‘n jong, energieke vrou met ‘n passie vir wat sy doen.

Sy werk agter die skerms om alles vlot en glad te laat verloop. Haar toewyding en vasberadenheid is bewonderenswaardig, en sy is die tipe persoon wat niemand dikwels raaksien nie, maar sonder wie niks sou werk nie. Haar sorgvuldigheid en oog vir detail verseker dat elke projek, groot of klein, met sukses voltooi word.

Sy is nie net ‘n harde werker nie, maar ook ‘n kreatiewe probleemoplosser wat altyd ‘n manier vind om uitdagings te oorkom.

Ashleigh se eienskappe is waarna die mode en styl ikoon Sandra Taljaard gesoek het. Terwyl Ashleigh in 2020 nie duidelikheid gehad het oor wat sy na skool wou doen nie, het Sandra haar ‘n pos aangebied.

“Dit was onverwags en nie vooraf beplan nie,” vertel Ashleigh.

“Sandra ken my ma al lank, en tydens ‘n geleentheid wat hulle saam gereël het, het sy gevra wat ek ná skool gaan doen.

“Op daardie stadium het ek nog nie ‘n duidelike plan gehad nie.

“‘n Paar dae later het Sandra my gekontak en gevra of ek nie belangstel om saam met haar te werk nie – en ek het die kans aangegryp,” het Ashleigh vertel en bygevoeg dat sy al soveel interessante mense ontmoet en wonderlike ervarings gehad het.

Een van die hoogtepunte vir haar was die werksreis in 2024 na Portugal, waar sy deel was van ‘n internasionale projek.

“Dit was ‘n ervaring om te sien hoe verskillende kulture mode en style benader.

“Verder geniet ek dit veral om agter die skerms te wees by groot geleenthede en te help om ‘n kreatiewe visie tot lewe te bring,” het sy gesê.

Ashleigh vertel sy geniet haar werk baie, veral omdat dit so uiteenlopend is want party dae werk sy agter die rekenaar aan grafiese ontwerp en bemarking en ander dae is sy by fotosessies, modeparades of geleenthede waar sy help met beplanning en logistiek.

Dit is opwindend en onvoorspelbaar, en dit is waarvan sy hou.

“Ashleigh is my regterhand. Sy is in beheer van operasionele en logistieke reëlings en is uiters bekwaam om al die balle in die lug te hou met alles waarby ons betrokke is,” het Sandra vertel.

Ashleigh het ‘n groot liefde vir musiek, veral vir sing en dit is iets wat sy in haar vrye tyd doen.

Sy hou ook van avontuurlustige aktiwiteite en probeer graag nuwe dinge.

Ashleigh is gevra waar sy haarself sien oor vyf of tien jaar en het geantwoord: “Dit is moeilik om te sê, want elke dag bring iets nuuts.

“Ek hoop ek sal steeds op die pad wees wat die Here vir my beplan, dat ek my gawes en talente ten volle sal uitleef, en dat ek ‘n positiewe impak op die mense rondom my sal hê.”

Met haar entoesiasme en positiewe gesindheid inspireer sy almal rondom haar en haar onbaatsugtige toewyding maak haar onmisbaar.

Ahleigh se boodskap is jy moet nooit opgee op jou droom nie want daar is ‘n rede hoekom jy dit droom.

Sy glo ook jy moet jouself nie meet aan ander mense se standaarde en prestasies nie want elkeen is genoeg en waardig.

“Jy is genoeg nes jy is. Onthou, jy leef net een keer, so maak dit ‘n lewe waarop jy trots is.

“Sukses is nie ‘n vaste konsep nie, dit is wat jy daarvan maak.

“Dit gaan oor groei, leer, en om getrou aan jouself te bly,” het Ashleigh gesê en afgesluit met ‘n aanhaling van Amelia Earhart: ‘Die mees effektiefste manier om iets te doen, is om dit te doén.’

Vir Ashleigh is dit hoe sy elke taak aanpak.

Sy is die stil krag agter die skerms. Die een wat verseker dat alles seepglad verloop.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button