Heidelberg distrik het ‘n ryk hotel geskiedenis
Hotelle was in oorvloed tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog in Heidelberg.
Heidelberg spog met ‘n ryk en diverse geskiedenis wat terugstrek tot die 1860’s, van sy ontstaan as ‘n beskeie dorpie tot sy moderne erkenning as 2024 Kwêla Dorp van die Jaar.
In 1899 het Balfour, Nigel en Greylingstad onder die Heidelberg distrik geval.
Net voor en gedurende die Tweede Anglo-Boereoorlog was daar nie minder nie as 25 hotelle in die Heidelberg distrik gewees.
Gedurende daardie tydperk was daar glo meer hotelle en drink plekke in Heidelberg as ander besighede.
Baie boere het glo Heidelberg besoek om rantsoene aan te koop, nagmaal by die verskeie kerke te hou en sosiaal te verkeer voor hulle weer teruggekeer het plase toe.
Van die hotelle wat in dié tyd in gebruik was, is Alexander Hotel, Ankers Hotel, Ben Ryan Hotel, Bismark’s Retreat Hotel, Central Hotel, Frieda Hotel, Heath’s Hotel, Hill’s Hotel, Molyneux Hotel, National Hotel, New Township Hotel, Nigel Hotel, Noycedale Hotel, Platkop Hotel, President Hotel, Railway Hotel, Rietspruit Hotel, Royal Hotel, Station Hotel, Half Way House Hotel, Transvaal Hotel, Victoria Hotel, Waverley Hotel, Welcome Hotel, en White Elephant Hotel.
In Heidelberg self was daar ongeveer 15 hotelle gewees.
Noemenswaardig is dat Veldkornet Salmon van As in 1902 in die Waverley Hotel was en dat hy ook in dié hotel aangehou is voor sy verhoor.
Van As is agter die ou tronk in Heidelberg onregmatig deur die Britse troepe tereggestel. Die Britse regering het ‘n ruk na die teregstelling ‘n brief aan Van As se familie gestuur waarin hulle om verskoning vra en dat die teregstelling nie hulle goedkeuring wegdra het nie.
Verder was die Waverley Hotel ook tydens die tweede Anglo-Boereoorlog in ‘n hospitaal omskep.
Die Waverley Hotel se naam is later verander na die Coronation Hotel, gedurende die bekroning van Koning Edward VII in 1902, nadat koningin Victoria gesterf het in Januarie 1901.
Die hotel was ook gebruik as ‘n hostel vir Laer Volkskool voordat dit in 1980 afgebreek is.
• Op 14 Februarie gaan die Grand Hotel, op die hoek van Voortrekker- en Jacobsstraat, en wat hernoem is na die Heidelberg Crown Hotel ‘n blou plaatjie toekenning van die Heidelberg Heritage Association ontvang.











