Local news

PRONTUIT: Paramedikus met ‘n hart van goud

Elzona se toewyding om vir ander om te gee, dikwels in hul mees kwesbare oomblikke, het nie net lewens gered nie, maar het ook die gemeenskap se harte diep geraak

Elzona Els (44) is nie onbekend in Heidelberg en sy omgewing nie.

Sy woon al vir 35 jaar in Heidelberg en is vir die afgelope 23 jaar die paramedikus wat vinnig reageer as daar ‘n noodgeval is waar mediese nooddienste nodig is.

Sy het haar laerskool jare in verskeie provinsies gedoen maar dit uiteindelik voltooi by Laer Volkskool en gematrikuleer by Hoër Volkskool.

“Ek het van kleins af ‘n passie en droom gehad vir medies. My opsies was beperk omdat ek baie jonk my dogter gehad het,” het sy vertel.

Elzona het haar studies by Emergency Services Training College en die Universiteit van Johannesburg voltooi.

Sy kan baie verhale deel van lief en leed en is trots dat sy in 2023 in ‘n berig in Beeld verskyn het vir haar hulp met ‘n baba se geboorte.

“Dit is moeilik om gebeure te deel van 23 jaar in die bedryf want daar is net te veel,” het Elzona gesê en bygevoeg dat die ergste insident wat sy ooit moes deurmaak was haar kind se dood.

Elzona het hierdie hartseer gebeurtenis met HERAUT gedeel. (Ouers praat oor die dood van hul kinders)
Ander hartseer gevalle wat haar bybly is ‘n 12-jarige seun wat homself per ongeluk in die kop geskiet het en ‘n jong seun wat dood geskok het in die grendeltyd tydens die Covid pandemie asook ‘n dood waar dit gerapporteer is as selfmoord, maar baie tekens wat sy gesien het, het eerder op moord gedui.

Elzona het ‘n tipiese dag as paramedikus beskryf.

“Skofte begin 06:00 en eindig die volgende dag 06:00. Dit is 24-uur skofte en sommige skofte is net 12 ure maar vir my is die laaste 14 jaar nie meer skofte nie maar 24/7 aan diens,” het sy vertel en genoem dat daar nie regtig ‘n tipiese dag vir ‘n paramedikus beskryf kan word nie want sommige dae vat jou voete skaars grond en ander dae kan jy weer asem skep.

Sy het dit beskryf as:

“EMS is hours and hours of boredom interrupted by moments of shear terror.”

Elzona se passie is nood medisyne. Om ‘n paramedikus te wees is nie net ‘n diens nie, vir haar is dit ‘n passie wat sy met liefde en deernis uitvoer.

In haar vrye tyd spandeer sy graag tyd met perde wat baie terapeuties is.

Sy het vertel dat na haar dogter Abé se dood, God besig is om baie dinge aan haar te ontbloot.

“God wys my my pad. As jy ‘n passie het vir iets kom dit van God af, jy kan dit nie self kweek nie. Dit is in jou bene, jou DNA en net God kan dit plant,” het sy vertel.

Elzona se toewyding om vir ander om te gee, dikwels in hul mees kwesbare oomblikke, het nie net lewens gered nie, maar het ook die gemeenskap se harte diep geraak.

Die gemeenskap is gelukkig om iemand van haar kaliber en karakter te hê en is dankbaar vir haar moed, professionaliteit en onbaatsugtige gees.

Elzona se boodskap aan die gemeenskap is: “Ons oordeel hopeloos te veel en te vinnig. Nie net ander mense nie, maar ook ons self.

Daar is altyd ‘n rede vir iemand se optrede, keuses en besluite. Leer mekaar ken, ondersteun mekaar en wees die vlerk wat ander soms op moet staat maak,” het sy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button