Local news

Van skrynwerker tot musikant sonder om musiek te kan lees

Sy grootste ondersteuner is sy vrou en die liedjie wat hy vir haar geskryf het, "Dis by jou" getuig van haar inspirasie en ondersteuning.

Plaaslike musikant Jozua Joubert (41) is gekies as een van die finaliste van die ATKV Crescendo mentorskap program vir 2025.

Ná ’n week van beraadslaging is 22 finaliste uit vanjaar se inskrywings gekies om deel te neem aan dié program, wat van 30 Maart tot 6 April in die Paarl plaasvind.

Deelnemers het die opsie gehad om hul oorspronklike liedjies aanlyn in te dien of deel te neem aan die aangesig tot aangesig oudisies saam met ATKV-Crescendo talent verkenners.

Gershwin Koen radio persoonlikheid en musiekvervaardiger, wat die digitale inskrywings saam met die vorige Crescendo finaliste Olga Leonard en Deon Meiring van die groep Glaskas beoordeel het, het erken die keuringsproses was nie maklik nie.

“Daar is soveel talent daar buite – inspirerende liedjieskrywers, pragtige melodieë en asemrowende stemme,” het Koen in ‘n persverklaring gesê.

Joubert het in Brakpan en Springs groot geword maar bly die afgelope drie jaar in Nigel saam met sy vrou Nita en tweeling stiefseuns.

Hy het as skoolkind aan revue’s, toneelspel en sang deelgeneem maar het eers drie jaar gelede besluit om sy droom om voltyds musiek te maak te volg.

“Ek was voorheen ‘n paneelklopper en skrynwerker maar musiek was nog altyd my passie,” het Joubert vertel en bygesê sy vrou is sy grootste inspirasie en dat sy ‘n baie groot steunpilaar in sy musiekbedryf is.

Rudi Claase is een van Joubert se gunsteling liedjieskrywers.

Joubert skryf graag sy eie liedjies en het in 2023 by die Suid-Afrikaanse Country Music Awards (SACMAF) ‘n toekenning gewen vir sy oorspronklike lied.

Sy lied, ‘Dis by jou’ is sy eie verhaal van wat sy vrou vir hom beteken. Dit het hom plek as finalis in die ATKV-Crescendo talentverkenners mentorskap program besorg.

Die mentorskap program bestaan uit ses dae se streng opleiding wat deur prominente figure in die Afrikaanse musiekbedryf uitgevoer word.

Deelnemers kry musikale leiding in melodie- en liriekwerk, tesame met ondersteuning in handelsmerk, bemarking en entrepreneurskap.

Jozua Joubert kan nie ‘n enkele musieknoot lees nie en basseer sy musiekspel op gehoor.

Gershwin Koen se kursus sluit praktiese wenke in oor die skryf van ‘n radiovriendelike liedjie.

“ATKV-Crescendo is nie ‘n talentkompetisie nie,” verduidelik projekbestuurder Morné van Staden.

“Ons filosofie is dat talent nie gebruik moet word vir mededinging teen mekaar nie, maar om ander kreatiewe mense te ondersteun en te bemagtig,” het van Staden bygevoeg.

“Ek was verstom en opgewonde toe ek hoor ek is ‘n finalis, want sonder enige musikale opleiding of hulp is hierdie definitief ‘n groot geleentheid om ‘n fondasie te kry en daarop te bou,” het Joubert gesê.

Hy het vertel hy kan nie ‘n enkele musieknoot lees nie, en sy musiekspel en kuns is slegs op gehoor basseer.

“Ek het die vermoë om in baie verskillende stemtone te sing, wat my ook ‘n baie goeie agtergrond sanger maak,” het hy bygevoeg.

Joubert se wense is om ‘n gerekende skrywer van musiek te wees vir ander sangers en self ook ‘n gevestigde musiek loopbaan te hê.

Gebasseer op die terugvoering van die ATKV-Crescendo talentverkenners, is dié wens kort op die horison.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button