Vossies bly tops op akademie en sport
Hoërskool John Vorster is in 2024 aangewys as die top skool in Ekurhuleni en by die onlangse Provinsiale Onderwys Toekennings, weereens vereer as een van die top skole in Gauteng.
Die Hoërskool John Vorster spog met akademiese uitnemendheid en top prestasies.
Die skool is in 2024 aangewys as die top skool in Ekurhuleni en by die onlangse Provinsiale Onderwys Toekennings weereens vereer as een van die top skole in Gauteng.
Vossies spog met ‘n 100% slaagsyfer vir die afgelope twee jaar en is ook vir die tweede opeenvolgende jaar die interhoër wenners.
Pastoor Nardie Möller het op 13 Februarie ‘n dank seremonie gelei waar die skool vir die Here dankie gesê is vir die prestasies wat die matrieks en personeel behaal het in die matriekeksamen van 2024.
“Ons het so gebid vir hierdie groep matrieks en dank die Here dat Hy hulle deurgedra het,” het Möller gesê.
Behalwe vir die leerders wat goed presteer, het die onderwysers ook verskeie prestasies behaal op distrik sowel as munisipale vlak.

Die toekennings wat ontvang is tydens die Provinsiale Onderwys Toekennings is:
• Beste prestasie vir hoogste slaagsyfer met toelating vir graadstudies op distriksvlak
• Beste prestasie vir 100% slaagsyfer op distriksvlak
• Theresa Becker – beste prestasie vir wiskunde (distriksvlak asook in Ekurhuleni)
• Esna Terblanche – beste prestasie vir lewenswetenskappe (Ekurhuleni)
• Frans Bester – beste prestasie vir landbou (distriksvlak)
Die Vossies het ook weer eens die interhoër gewen en het met ‘n totaal van 13 trofeë weggestap.

Hulle is ook as algehele wenners aangewys. Die trofeë wenners is:
• Beste junior meisie veldatleet: Dominique Kriel
• Beste junior seun veldatleet: Henrico Parker
• Beste senior meisie veldatleet: Semei Jounert
• Beste senior seun veldatleet: Petri Stoltz
• Beste senior dogter baanatleet: Lohané Aucamp
• Junior Victrix Ludorum: Zandri van der Merwe
• Junior Victor Ludorum: Henrico Parker
• Senior Victrix Ludorum: Lohané Aucamp
• Senior Victor Ludorum: Nipho Sibeko
• Algehele wenners
• Beste pom-poms groep
Jan Nienaber, skoolhoof het sy trots en dankbaarheid uitgespreek teenoor elke leerder en onderwyser wat bydra tot die skool se top prestasies.
“Ons gaan verseker hard werk om ons prestasies volgende jaar te herhaal,” het hy gesê.



