Medalje-oes vir Heidelberg skopboksers by Gauteng Kampioenskappe
Die plaaslike skopboksers gaan na hul goeie vertonings aan die SA's deelneem.
Vyf lede van Ability Academy in Heidelberg het aan die begin van Februarie aan die Ekurhuleni Skopboks proewe, wat by die The Dojo in Northmead Benoni gehou is, deelgeneem.
Esmerelda Zeilinga (29), Divan Potgieter (15), Stefan Fourie (16), Arno Carstens (16) en Dieter du Preez (17) het almal die Ekurhuleni-span gehaal.
Tydens die naweek van 22 – 23 Februarie het dié Ability Academy vegters aan die Gauteng Kampioenskappe by die John Barrable Saal in Benoni deelgeneem.
Die uitslae is as volg:
Esmerelda Zeilinga het twee silwer medaljes verower in Points en Continues.
Divan Potgieter het een goue medalje vir Continues en twee silver medaljes vir Kicklight en Points verwerf.
Stefan Fourie het drie goue medaljes vir Continues, Kicklight en Points gekry.
Dieter du Preez het aan die K1 afdeling deelgeneem waar hy net een harde geveg gehad het en wat hy die knie moes buig en op punte verloor het.
Arno Carstens was ingeskryf om aan die K1 afdeling deel te neem maar was genoodsaak om te onttrek as gevolg van ‘n besering wat hy die week voor die geveg opgedoen het.
Daar gaan egter nog een geleentheid vir Arno wees om die Gauteng-span te maak.
“Al die skopboksers van Ability Academy wat in aksie was, het die Gauteng se skopboks span gehaal en ons almal hou asem op en ondersteun Arno Carstens om ook die span te maak,” het Stefan Pretorius, Ability Academy se afrigter gesê.
Die Gauteng-span gaan aan die Suid-Afrikaanse Skopboks Kampioenskappe deelneem wat van 26 tot 29 April in Newcastle plaasvind.



