Berge laat Oos-Rand Polisie les opsê
Die wedstryde het ook gedien as goeie oefening vir Heidelberg se spanne.
Heidelberg Rugbyklub het aan Nigel se rugbydag deelgeneem.
Die wedstryde was op die John Vorster Stadion in Nigel gespeel. Beide die eerste en tweede spanne was in aksie.
Berge se eerste span het teen Oos Rand Polisie te staan gekom. Die spanne het ook op die dag vir ‘n trofee gespeel.

Heidelberg het die wedstryd 28-12 gewen en sodoende hulle eerste silwerware vir die seisoen ingepalm.
Die eerste helfte was baie gelykop en altwee spanne het baie foute gemaak maar ook verseker dat die teenstander nie daarop kon kapitaliseer nie.
Heidelberg het die alleen drie in die eerste helfte gedruk wat suksesvol verdoel was.
In die tweede helfte het Heidelberg eerste punte aangeteken met ‘n drie wat verdoel was. Oos Rand Polisie het daarna geantwoord met twee drieë en een suksesvolle doelskop.

Soos die wedstryd aangegaan het, het Berge die oorhand gekry en twee verdere drieë gaan druk wat altwee verdoel was.
Daar was vier geel kaarte in die wedstryd asook een rooi kaart uitgedeel waarvan Oos Rand Polisie twee geel kaarte sowel as die rooi kaart ontvang het.

Heidelberg se tweede span het teen Roodepoort se derde span te staan gekom. Heidelberg het 18-15 verloor.
Die eerste helfte het Berge al die speelwerk gedoen en twee drieë gedruk om halftyd 10-0 voor te loop.
In die tweede helfte het Roodepoort hulself laat geld en twee drieë, een doelskop en twee strafdoele in punte omgeskep terwyl Heidelberg ‘n verdere drie gedruk het.

As Heidelberg se skopper al die punte omskep het wat beskikbaar was sou hulle as oorwinnaars van die veld afgestap het.
Berge se westryd bepalings vir die volgende maand is: 8 Maart teen Nigel in die Nasons Trading Cup wedstryde; 5 Maart by die Sasolburg Rugbydag; 22 Maart teen Carltonville op Volkskool se veld; 29 Maart Springs Rugbyklub se rugbydag en 5 April Noord Wes Universiteit op Volkskool se veld.





