Nigel Rugbyklub bied aksievolle rugbydag ondanks gure weer
Die rugbydag is 'n jaarlikse instelling waartydens verskillende klubs mekaar die stryd aansê.
Nigel Rugbyklub het op 1 Maart hulle jaarlikse rugbydag gehou en ten spyte van die gure weer is die dag deur voortreflike spel gekenmerk.
Van die wedstryde was in sonnige weer gespeel terwyl ander spanne met reën as ‘n bykomende teenstander moes klaarkom.
Nigel se tweede span het Springs o21 aangevat en Nigel se eerste span het Roodepoort se eerste span die stryd aangesê.
Die ander wedstryde was Heidelberg se tweede span teen Roodepoort se derde span, Heidelberg se eerste span het Oos- Rand Polisie die stryd aangesê, Meyerton het teen Roodepoort en Diggers te staan gekom.
Nigel se eerste span het Roodepoort 31-13 geklop maar sake was nie van die begin af maklik nie.
Roodepoort het aanvanklik baie goed saam gespeel om Nigel se wedstrydplan te ontwrig.
Na mate die wedstryd egter gevorder het, het Nigel beter begin saam speel.
In die eerste helfte het Nigel twee drieë en een geslaagde doelskop gehad met Roodepoort se strafdoel en ‘n drie wat gedruk was.
Die halftyd telling was Nigel 12 – Roodepoort 8.
Net na halftyd het Roodepoort ‘n vinnige drie gedruk om vlugtig voor te loop.
Nigel het met meer doelgerigte spel en selfvertroue begin speel en die wedstryd hulle sin gemaak om aanvalle van oral op die veld te loots.
Dit het toegelaat dat Nigel drie verdere drieë druk en twee suksesvolle doelskoppe kry.
Nigel se tweede span het in die eerste wedstryd van die dag net-net vasgeval teen Springs se o21 span en het met 6-8 die onderspit gedelf.
Beide die spanne het probeer om die hul opponent se verdedigingslyne oop te breek maar doelgerigte verdediging het die toon aangegee.
Nigel se tweede span het twee strafdoele deur die pale gejaag en Springs het ‘n strafdoel en ‘n drie gedruk.
Meyerton het twee spanne in aksie gehad. Die eerste span het 19 – 7 teen Diggers gewen het. Meyerton se tweede span het gesukkel teen Roodepoort se tweede span en moes met 31 – 0 die aftog blaas.














