Heidelberg Jagtersvereniging brei uit met nuwe fasiliteite
SA Jagters speel ‘n prominente rol in die bestuur en bewaring van jagkultuur, wapenregte, natuur en erfenis en lede van die gemeenkap belangstel in die sport word genooi om by die tak aan te sluit.
Die Heidelberg Jagtersvereniging het hul jaar op 22 Februarie afgeskop.
Die afskop ete was deel van die inwyding van die klubhuis by die skietbaan, sowat 13km buite Heidelberg op Piet Moolman se plaas, naby Karanbeef.
Die skietbaan was in Mei 2024 ingewy met slegs ‘n skeepshouer en ‘n badkamer.
Intussen het dit uitgebrei dat daar ook funksies by die baan aangebied kan word.
Die Heidelberg-tak wat deel is van Suid-Afrikaanse Jagters en Wildbewaring is in 1998 gestig en het tans 308 lede.
SA Jagters is op 1 Oktober 1949 in Pretoria gestig wat die organisasie 75 jaar oud maak.
Volgens Pieter le Roux, voorsitter van die Heidelberg Jagtersvereniging is die kern van die organisasie om ongereguleerde jag wat op daardie stadium hoogty gevier het, onder beheer te kry.

Die SA Jagtersvereniging het met 50 lede begin en uitgebrei na oor die 40 000 lede met 80 takke landswyd.
SA Jagters bied ‘n wye verskeidenheid van dissiplines aan skuts – van die jag gebaseerde tabelle, junior skiet, sportskiet, haelgeweer en multi-dissiplinêre skiet, Limited Bolt Action, IGRF asook SA Precision Rifle.
“SA Jagters speel ‘n prominente rol in die bestuur en bewaring van ons jagkultuur, wapenregte, natuur en erfenis,” het Le Roux gesê.
Le Roux het in Maart 2005 by die vereniging aangesluit en is sedert September 2023 die voorsitter van die Heidelberg-tak.
“Ek het aanvanklik besluit om aan te sluit met die veranderinge wat in die vuurwapen wetgewing aan gebring is. Dit het egter baie gou ‘n bysaak geword en ek het ‘n passie gekry vir die wyer voetspoor van SA Jagters,” het Le Roux gesê.
SA Jagters bied ondersteuning met wapenlisensies, bevorder verantwoordelike jag en speel ‘n groot rol in die bewaringsveld.

“Die skiet sport is een van die sportsoorte waar dissipline ‘n groot rol in die opbring van veral kinders het. Dit is iets wat ek oor die jare ervaar het met kinders wat aan die sport deelneem.”
Gerhard Kotze, wat die skakelbeampte vir die Heidelberg-tak is, is vir die afgelope 40 jaar ‘n lid van SA Jagters en vir hom gaan dit meer oor die bewaring van die natuur as oor jag.
Kotze wat ‘n skut van formaat is, het al op alle skietkuns toepassings groot prestasies behaal.
Hy vertel van die projekte waarby die vereniging betrokke is wat strek van bewaring van uile en bedreigde spesie voëls tot op die skietbaan met praktiese skiet en bewaring van diere.
Kotze het dié wat geïnteresseerd is in die sport genooi om hom te skakel en aan te sluit by die vereniging.
Vergaderings vind die tweede Donderdag van elke maand by die Heidelberg Golfklub plaas.
Skakel Gerhard Kotze by 083 720 236 of Pieter le Roux by 082 878 2962 vir meer inligting.



