Rolstoel skenking bring groot verligting vir gesin
Babsie moes voorheen sonder 'n rolstoel oor die weg kom en gedra word, maar dit is nou iets van die verlede.

Die SAWV, Eenheid Suikerbos tesame met die Rotary Anns van Riverside het onlangs groot verligting gebring vir ‘n gesin van die dorp.
Tjaard Herbst (32), bekend as Babsie is ‘n outistiese en gestremde inwoner wat lank sonder ‘n rolstoel oor die weg moes kom.
Babsie se ma, Ansie en ouer broer werk gedurende die dag en dit het noodsaaklik geword dat sy jonger broer, Henry na Babsie moet omsien.
Die gesin het nie die finansies beskikbaar gehad vir die spesiale toerusting wat Babsie benodig om daagliks oor die weg te kom nie.
Die kere wat Babsie kliniek toe moes gaan moes Henry hom fisies optel en dorp toe dra sodat hy ‘n dokter kan sien.
Babsie kan wel oor kort afstande self loop maar ‘n gespesialiseerde rolstoel was ‘n groot behoefte.
Ina Labuschagne van Rotary Anns van Riverside het van Babsie te hore gekom en het ‘n span uitgestuur om ondersoek in te stel.
Daarna het Labuschagne op sosiale media om hulp gevra en Adjudant Offisier Colin Church van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging het onmiddellik hulp aangebied.
Die SAWV veterane organisasie het ‘n projek Edelvalk, met die doelwit om gestremdes sonder mediese fondse te help.
Church het Frik van Niekerk, die nasionale projek leier gekontak en Van Niekerk het aan die werk gespring om ‘n rolstoel, wat geskik is vir Babsie, gereed gekry.

Die SAWV, Eenheid Suikerbos, wat in Heidelberg is, se lid Gerhard Appelgryn het intussen uitgevind dat Babsie se verjaarsdag op 4 Maart was.
Appelgryn het finansiële hulp aangebied om ‘n verjaarsdag koek asook doeke vir Babsie aan te skaf en in samewerking met Rotary Anns se personeel is dié skenking ook bewaarheid.
‘n Spesiale geleentheid is gereël om die rolstoel aan Babsie te oorhandig.
“Babsie mag nou wel nie ten volle besef waaroor gaan die rolstoel nie, maar dit maak dit soveel makliker vir sy gesin om hom te versorg,” het Van Niekerk gesê.
“Henry hoef hom nie meer dorp toe dra nie, maar kan hom nou in sy rolstoel stoot.
“Dit is wonderlik dat daar steeds mense is wat omgee, en om saam te werk kon ons iets spesiaal doen, nie net ‘n gestremde help nie, maar ook sy familie,” het Van Niekerk bygevoeg.
Ansie Herbst was baie dankbaar vir alles wat vir haar seun gedoen is.
“Dankie aan elkeen wat ‘n rol gespeel het om hierdie baie spesiale kind te help,” het sy gesê.
Meer oor Projek Edelvalk:
Projek Edelvalk is die inisiatief van Eenheid Suikerbos (Heidelberg) van die Suid-Afrikaanse Weermagvereeniging.

Die weermag veterane verkry gebruikte apparaat vir gestremde mense, maak dit diensbaar en help dan ‘n gestremde wat nie ‘n mediese fonds het nie.
Soos met alle nie-winsgewende organisasies, is hulle afhanklik van die gemeenskap vir skenkings om hulle in staat te stel om ‘n gestremde persoon te help.
“‘n Gestremde is so gestremd soos wat die samelewing hom toelaat om te wees. Met ‘n bietjie hulp stel ons ‘n gestremde in staat om ‘n redelike normale lewe te lei.
“Daarom vra ons die gemeenskap, skenk asseblief daardie ou rolstoel, gehoorstukke, looprame of enige apparaat wat ‘n gestremde kan help.
“Ons verkoop nie die apparaat nie, maar leen dit vir ‘n persoon so lank as wat hulle dit nodig het. Ons doel is nie om geld te maak, of om ‘n mens wat reeds sukkel, nog verder geldelik te belas nie.
“Met die skenkings wat die gemeenskap gee, kon ons reeds meer as 150 mense landswyd help. In geld waarde is dit Van Niekerk kan gekontak word by 079 220 5555.
Persone wat skenkings wil maak vir die Herbst gesin of spesifiek vir Babsie kan vir Labuschagne van die Rotary Anns van Riverside by 083 303 1249 kontak.