Suikerbosoord matrone het ‘n passie vir mense en hul welstand
Matrone Wehmeyer glo nie aan kort pad vat nie.

Wilma Wehmeyer (55) is geen onbekende gesig by die Suikerbosoord waar sy die matrone van die intensiewe sorg afdeling is nie.
Oor haar persoonlike lewe wil sy nie te veel uitbrei nie en glo dat privaatheid die beste wagwoord is, maar oor haar werk by die Suikerbosoord gesels sy graag.
Wehmeyer is getroud met twee kinders.
Sy het in 1992 aan die Randse Afrikaanse Universiteit (nou UJ) gekwalifiseer as mediese suster.
Die eerste hospitaal waar sy diens gedoen het, was Milpark hospitaal, waar sy vir een jaar in die intensiewe sorg eenheid gewerk.
Daarna het Wehmeyer op die Suid-Afrikaanse Swaziland grens vir drie jaar diens gedoen voordat sy haar werk, steeds in die gesondheidsveld in Pretoria voortgesit het.
Sy was onder andere werksaam by fabrieke asook stadsrade waar sy haar beroep as ‘n mediese suster uitgeleef het.
Sy het ook op ‘n stadium ook vir twee bekende apteek groepe gewerk.
Sy het ‘n paar vrae van die HERAUT beantwoord.
• Hoe lank is jy nou al matrone by Suikerbosoord?
Ek is nou twee en ‘n half jaar werksaam by die oord. Daar is twee nog twee ander matrones wat ook by die oord werksaam is, om te verseker dat die dagtake so vlot as moontlik verloop.
• Wat sal ‘n bemoedigende boodskap van jou aan pasiënte en jou personeel wees?
Ek het iets wat ek vir hulle sê waarin ek vas glo.
Aan my pasiënte: Gebruik die tyd of verloor die tyd verewig.
Aan my personeel: Geniet elke dag en maak ‘n verskil.
• Wat is jou passie?
Om met mense te werk wat nie vir hulself kan sorg nie. Dit sluit babas, die jeug asook die oues van dae in.
• Wat is jou daaglikse mikpunte?
Ek is streng op opleiding en om denke te verander sodat elkeen elke dag iets nuuts leer.
Ek is streng daarop om toe te sien dat alle prosedures by die Suikerbosoord volgens die reëlboek gedoen word; daar is nie kort paaie nie.
Ons werk met baie mense wat daagliks op ons vertrou en ons wil verseker dat hulle tyd by ons so gemaklik as moontlik is.
Ons moet verseker dat die pasiënte se gesondheid eerste gestel word. Daar is baie uitdagings in die daaglikse werk situasies.
Die moeilike deel is om elke uitdaging op sy eie aan te pak sodat die uitkoms uniek is aan die probleem. Vandag se probleme kan nie môre aangepak word nie.