Grietjie staan nie terug vir Goliat – Heidelberger weereens gekroon as pampoenkoning
Alhoewel die groet van Grietjie 'n uitdaging was met eers die hittegolwe en toe die reënval het sy nie teleurgestel nie en is as wenner by die jaar se Goliat van Gat pampoenfees gekroon.
Op 15 Maart was dit weer tyd vir die Goliat van Gat Pampoenfees en Rensburg inwoner, Cornelis Bester het weereens met die grootste pampoen gespog en weggestap as die Goliat van Gat Pampoenfees wenner.
Goliat van Gat Pampoenfees is `n jaarlikse instelling waar al die grootste, lelikste en mooiste pampoene gebring word na die ou motorklub in Pretoria en terwyl daar Pampoenfees gehou word, word die reuse pampoene geweeg om te bepaal wie die Goliat van Gat Pampoen koning gaan wees.
HERAUT het in die uitgawe van 19 Maart 2024 (Heidelberger is pampoenkoning) berig oor Bester se Bella wat met ‘n gewig van 730kg die 2024 kampioen was. Die jaar was dit Grietjie se beurt.

Grietjie het nie teruggestaan vir Goliat nie en met ‘n gewig van 445kg was sy gekroon as die grootste pampoen.
Bester het vertel dat Grietjie se groei met baie uitdagings gekom het.
Die groei van Goliat van Gat reuse-pampoene is ‘n fassinerende proses wat ‘n kombinasie van kundigheid, spesifieke klimaatstoestande en baie sorg vereis.
Die proses begin met die keuse van spesiale Goliat van Gat-sade, wat bekend is vir hul vermoë om reuse-pampoene te produseer.
Hoë kwaliteit en geneties sterk sade speel ‘n sleutelrol.
“Die hittegolf van verlede jaar en toe die reënval kort daarna was nie die mees ideale toestande vir Grietjie se groei nie,” het Bester vertel.

Die grond waar die reuse pampoene groei, moet diep, vrugbaar en goed gedreineerd wees. Organiese materiaal soos kompos en mis word ingewerk om die grond ryk aan voedingstowwe te maak.
Die sade word gewoonlik in die lente geplant, wanneer die temperatuur matig en gunstig is vir groei. Die sade word in klein heuwels van grond geplant, wat help met dreinering en warmte absorpsie.
“Dit was moeilik om Grietjie koel te hou tydens die hittegolf en toe die reën begin uitsak, was dit weer moeilik om die grond gedreineerd te hou,” het Bester verduidelik en gesê dat alhoewel water en sonlig ‘n groot rol speel in die groei van die pampoen, was die weerstoestande van eers oormatige hitte en toe te veel water, ‘n uitdaging om Grietjie aan die groei te hou.

Die Goliat van Gat-pampoene groei letterlik teen ’n indrukwekkende tempo en kan honderde kilogram weeg as die omstandighede ideaal is.
Bester het vertel dat Grietjie reeds twee weke voor die kompetisie as gevolg van die aanhoudende reën, amper die gees gegee het, en sy kon moontlik nog ‘n paar kilogram swaarder kon gewees het as dit nie vir die baie reën was nie.
“Ek is baie beïndruk met Grietjie se deursettingsvermoë en alhoewel sy nie so swaar soos verlede jaar se Bella was nie, het sy steeds vir my die wenplek besorg,” het Bester gesê.
Al die pampoene wat ingeskryf is, word vir verskeie welsynsorganisasies in Pretoria geskenk.




