Jeugontwikkeling en afrondingseminaar vir dogters
Die seminaar sal meisies toerus met waardevolle vaardighede wat 'n fondament vir toekomstige sukses sal bou.
Emsie Schoeman is ‘n bekende Suid-Afrikaanse figuur wat veral bekend is vir haar werk as ‘n etiket- en afrondingskenner.
Sy het jare gelede kursusse aangebied wat mense gehelp het om hulself professioneel en sosiaal te verbeter, met ‘n fokus op goeie maniere, selfvertroue en persoonlike voorkoms.
Haar werk het ‘n groot impak gehad, veral in ‘n tyd toe sulke vaardighede as noodsaaklik beskou is vir sukses in die samelewing.
Met tegnologie en sosiale media wat ‘n groot rol speel in die samelewing vandag, word afronding en etiket soms opsy geskuif.
Soos Emsie Schoeman van ouds het Sandra Taljaard saam met die plaaslike skole besluit om ‘n jeugontwikkeling- en afrondingseminaar spesiaal vir meisies aan te bied.
“Elke jong meisie verdien die kans om met selfvertroue en grasie die toekoms in te stap,” het Sandra Taljaard gesê en bygevoeg dat die seminaar meer as net ‘n seminaar is, maar beloof om ‘n inspirerende, opwindende ervaring te bied.
Gedurende hierdie dag gaan die jong dames nie net waardevolle vaardighede leer nie, maar ook ‘n dag vol pret en interaksie beleef, wat met sorg en passie ‘n sterk fondament vir die meisies se toekomstige sukses sal bou.
“Die program sal jong dames toerus om selfversekerd, stylvol en vol selfrespek groot te word en die seminaar sal fokus op die bou van lewensvaardighede wat elke meisie sal bevoordeel,” het Taljaard gesê.
Deelnemers sal leer hoe om ‘n blywende eerste indruk te maak, waarom netjies en stylvolle klere belangrik is, en hoe om in enige sosiale situasie vol selfvertroue op te tree.
Volgens Taljaard sal meisies nie net die geleentheid gegun word om hulself te ontdek nie, maar dit bied die gereedskap om vol selfvertroue hul pad na die toekoms in te stap.
Die seminaar sal op 24 Mei plaasvind vir hoërskool meisies en op 31 Mei vir laerskool meisies.
Vir meer inligting kontak Sandra Taljaard by 082 888 2731 of Ashleigh Labuschagne by 082 872 2858.



