Local newsSchools

Prontuit: Afrikaanse uitblinker uit Engelse tuiste

Alhoewel slang’ en die gebruik van anglisismes en afkortings deel vorm van die alledaagse gesprekke tussen vriende, is dit steeds belangrik dat daar ‘n balans is om die standaard van suiwer Afrikaans te behou.

As deel van die Afrikaanse taal eeufees viering vanjaar, het HERAUT gaan uitvind watter leerders ‘n groot liefde vir die taal het.

By Hoërskool John Vorster is daar met Kylie Thoma (17) kennis gemaak.

Sy is in Graad 12 en handhaaf oor die algemeen ‘n gemiddeld van 94% vir Afrikaans en dit terwyl haar huistaal hoofsaaklik Engels is.

Kylie het in Nigel grootgeword en haar ma, Tania het vertel toe Kylie drie jaar oud was het sy begin soek na ‘n Engelse skool.

Sy het met Laerskool Tini Voster se hoof, toe Bennie Holmer, gaan praat wat vir haar gesê het om Kylie by hulle skool in te skryf.

“Sy redenasie was dit is beter as jy jou kind onder jou vlerk het naby die huis in plaas daarvan om haar in ‘n skool te sit wat, alhoewel in jou huistaal is, baie ver van die huis af is,” het Tania vertel.

Aangesien hul ondersteuningstelsel in Nigel is, het Tania besluit dit sou prakties beter wees as Kylie by ‘n nabygeleë skool ingeskryf word. Sy het vanaf Graad 0 skool in Afrikaans gegaan.

“My ma het my van kleins af geleer dit maak nie saak waar jy leer nie, maar dit hang van jouself af hoe hard jy leer,” het Kylie vertel.

Kylie het sedert haar laerskool jare presteer in Afrikaans en handhaaf met gemak haar plek as een van Vossies se top leerders in Afrikaans.

“Die taal was nog altyd vir my maklik om te begryp en om mee te kommunikeer,” vertel sy.

“Ek geniet die diepte en kreatiewe uitdrukkings in Afrikaans asook die unieke kultuur en ryk geskiedenis van die taal. Ek lees graag Afrikaanse boeke,” het Kylie vertel en het genoem Daleen Matthee se boek, Kringe in die Bos, is haar gunsteling.

Danksy haar erns en passie het sy verskeie toekennings vir Afrikaans ontvang.

Een van die woorde wat Kylie baie gebruik is ‘rêrig’

As ‘n Graad 12 leerling voel Kylie ‘slang’ en die gebruik van anglisisme en afkortings deel vorm van die alledaagse gesprekke tussen vriende.

“Ek dink dit laat kinders gemaklik voel en skep op een of ander manier ‘n gevoel van samehorigheid tussen vriende, maar dit is steeds belangrik om ‘n balans is tussen ‘slang’, afkortings en anglisisme en standaard Afrikaans the hê sodat ons effektief kan kommunikeer,” het Kylie vertel.

Volgens Kylie is dit belangrik dat Afrikaans moet voortleef as ‘n integrale deel van kulturele identiteit.

Volgens haar is die taal se evolusie gekoppel aan die komplekse geskiedenis van Suid-Afrika wat insig bied in kolonialisme, apartheid en die voortdurende reik na versoening.

“Afrikaans is nie net ‘n taal nie, dit bestaan uit die geskiedenis, tradisies en identiteit van Afrikaner mense,” het Kylie gesê. Sy het bygevoeg sy kan met trots sê sy is ten volle tweetalig en glo deursettingsvermoë is die resep vir sukses om enige taal aan te leer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button