Local news

Egpaar vier die 55ste herdenking van hul unieke troudag

Geloof en gebed is deel van die egpaar se wenrespel vir 'n lang en gelukkige huwelik.

Twee inwoners van Suikerbos Aftreeoord Piet en Marinda De Villiers het onlangs hul 55ste huweliksherdenking gevier.

Die de Villiers egpaar is op 21 Maart 1970 in die Klipkerk in Heidelberg getroud tydens ‘n seremonie wat enig in sy soort is.

Die bruidegom, sy twee strooijonkers asook die kapelaan, wat die egpaar se huwelik voltrek het, was in volle polisie-uniform geklee.

Om die geleentheid nog meer uniek te maak was Piet die enigste polisielid (sovêr bekend) wat ‘n erewag van SAPD-lede in volle uniform by die pragtige ou Klipkerk gehad het.

Piet en Marinda de Villiers teken die trou register.

Piet is op 2 Julie 1944 in Amersfoort gebore waar hy ook sy laerskool- en hoërskoolloopbane voltooi het.

Marinda is op 1 September 1942 in Braamfontein, Johannesburg gebore.

Sy het in verskeie dorpe skool gegaan soos haar gesin van plek tot plek verhuis het.

Piet het by die polisiediens in 1962 in Heidelberg begin. Sy loopbaan het gestrek tot 1991 toe sy gesondheid genoodsaak het dat hy die tuig moes neerlê.

Marinda het in die Heidelberg Hospitaal gewerk en dit is ook waar die egpaar mekaar ontmoet het.

“Ek het dadelik geweet sy is die een vir my en dat sy mooi was, was voorwaar ‘n pluspunt” sê Piet.

Die paartjie het in Januarie 1969 begin uitgaan en vandaar nog nie terug gekyk nie.

Marinda de Villiers en haar strooimeisies op haar troudag 55 jaar gelede.

Volgens beide Piet sowel as Marinda voel dit asof dit gister was.

Die egpaar was baie aktief in die dorp gewees totdat gesondheid die oorhand gekry het en hulle die lewe rustiger moes aanvat.

Hulle het drie dogters en een seun, agt kleinkinders en 12 agterkleinkinders.

Almal woon in die Heidelberg omgewing.

Die raad wat Piet en Marinda het en waarop hulle elke dag bou is om jou geloof uit te oefen.

“Wees ook geduldig en moet nie dat jou humeur jou onderkry nie.

Marinda en Piet de Villiers loop deur die erewag van SAPD lede.

“Gebed en geloof is uiters belangrik in enigeen se verhoudings,” sê Piet.

Hulle het ook raad vir nuut getroude paartjies:

Leer mekaar ken.

Moet nie hardkoppig wees nie. Elke ding sal op die regte tyd gebeur en moet nie goed aanjaag nie.
Help mekaar en jou medemens soveel as wat jy kan.

Moenie jou geliefde afskeep nie.

Julle is saam ‘n eenheid en dit kan net sterker word as julle goed saam doen.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button