Inwoner staan sterk deur vele terugslae
Patricia staan vas in haar geloof en glo haar lewe is gespaar sodat sy haar roeping van liefdeswerk kan voortsit en elke dag 'n verskil maak in ander se lewe.
Patricia Meyer (61) het in Julie 2024 oorgeneem as die eienaar van die Solidaritiet Helpende Hand Ons Winkel in die Heidelberg Forum gebou.
Die HERAUT het gaan uitvind wie die sterk vrou agter die stuur van sake is.
Patricia is met haar eerste liefde, Hans getroud en die egpaar het drie seuns – Johan is die oudste, Danie die middelkind en Corné die jongste.
Meyer se lewe is gevorm deur beproewinge wat die meeste sou breek.
Sy het deur diep hartseer en ‘n stryd teen siektes gegaan wat die grense van haar liggaam en gees getoets het. Tog het sy deur dit alles na vore gekom as ‘n pilaar van hoop en deernis.
Sy vertel haar pa was ‘n bouer en hulle het in Pretoria grootgeword, met ‘n gesin van drie sussies en twee broers waarvan net een broer nog lewe.
Haar lewe het tussen 2016 en 2021 traumatiese draaie gemaak.
Sy het vir jare gewerk as ‘n senior aankoper en kontrak bestuurder. Sy het ‘n outo-immuunsiekte opgedoen, ‘n toestand waar die liggaam se immuunstelsel sy eie gesonde weefsel aanval en het ook haar rug tydens ‘n val by die werk gebreek.
Sy is kort na dié gebeure in 2016 by die haar werk afgelê.
Haar man Hans het twee keer in 2021 Covid gekry en ook bloeding op sy brein opgedoen. Hy was as gevolg van siekte na 32 jaar as superintendent by ‘n staalfabriek afgelê.
“Ons het besluit om vir ‘n naweek by my oorlede suster te gaan kuier, maar op pad soontoe het ek ‘n verskriklike pyn aan die linkerkant van my bors gekry.
My man het besluit om eerder om te draai huis toe en op pad huis toe het hy die ambulans gebel. Ek was skaars in die ambulans toe daar ‘n bloedklont deur my long gegaan het,” het Patricia vertel.
“Ek was vir ‘n week in ‘n koma en die dokter het my man ingelig dat hulle medies nie meer veel vir my kon doen nie. My man het my vertel hoe hy nooit opgehou bid het nie,” het sy voortgegaan.
Patricia het na ‘n week ontwaak uit die koma. Sy was nog baie swak en op suurstof maar het vertel sy het baie na haar kinders verlang.
Sy kon haar foon by haar hê en wou al drie haar seuns op ‘n video-oproep bel. Sy kon met Johan en Corné praat, maar kon nie vir Danie in die hande kry nie.
Dit was twee weke voor Danie se 38ste verjaarsdag en sy was later ingelig dat hy vir haar in die hospitaal wou kom kuier maar het nie lekker gevoel nie en het eerder by die huis gebly. Hy is by die huis dood aan ‘n massiewe hartaanval.
Dit was gedurende die Covid pandemie en ten spyte van die verslapping van die inperk reëls, was die hospitaal steeds streng met besoeke, veral omdat sy so siek was en steeds op suurstof.
“Die hospitaal personeel het my man en my twee seuns slegs vyf minute toegelaat om saam vir my te kom sê dat my middelste seun oorlede is,” het Patricia vertel.
Die skok van haar kind se dood het haar siekte toestand vererger en haar suikertelling het gevaarlik laag gedaal. Sy is wel uit die hospitaal ontslaan maar was steeds op suurstof en baie medikasie.
“Ek kon my kind se begrafnis bywoon. Die medikasie het my erg aangetas en ek het gesukkel om te praat en te skryf. Ek het met die Here geworstel en gebid vir genesing en vir troos vir my kind se dood met wie ek nie eers vir ‘n laaste keer voor sy dood mee kon praat nie,” het sy vertel.
“Ek was gedaan, maar ek het nie moed opgegee nie en alhoewel ek baklei het teen die wreedheid van die lewe en gebeurtenisse, het ek ‘n man en nog twee seuns om voor te lewe,” het Patricia gesê.
In 2022 het sy begin beter voel en vertel hoe baie krag daar in positiewe denke is. Sy het stelselmatig van die medikasie afgegaan en elke dag sterkter begin voel.
Patricia en Hans het Heidelberg toe getrek en bly vir die afgelope drie jaar in ‘n huis wat hulle op hul seun se plaas net buite Heidelberg gebou het.
“Ek het nog altyd ‘n liefde vir my medemens gehad. Ek en my man het selfs 17 kinders grootgemaak wat nie ons sin is nie.
”Dit is ‘n liefdeswerk en ‘n roeping van die Here,” het sy vertel.
Sy sê haar suster was betrokke by Helpende Hand jare gelede en toe sy die geleentheid kry om by die Helpende Hand in Heidelberg betrokke te raak, het sy nie twee keer gedink nie.



