Local news

Afgetrede inwoner verfraai Nigel se groen ruimtes

Moolman is geliefd in die gemeenskap van Nigel omdat hy nooit suinig is met sy tyd nie en nie sal skroom om in te gryp wanneer daar gemeenskaps projekte is nie.

Vir die meeste inwoners in Nigel is André Moolman ‘n bekende gesig wat tuindienste doen en ingryp om gemeenskap projekte te doen as deel van die Nigel Clean-Up groep.

Moolman (62) vertel hy kan nie stilsit nie en nadat hy twee jaar gelede op pensioen gegaan het, moes hy iets vind wat hom kan besig hou.

Hy het sy eie tuindienste begin, maar vir iemand wat van uitdagings hou, het hy nie geskroom om betrokke te raak by gemeenskap projekte nie.

Moolman is vanaf Bloemfontein, waar sy dogter en kleinkinders nog bly.

In 1982 het hy gematrikuleer aan Hoër Tegniese Skool Louis Botha in Bloemfontein waar hy koshuis hoofseun en skool onderhoofseun was.
Hy was ook ‘n kranige sportman wat sy skool verteenwoordig het in rugby en krieket.

“Ek was maar n saggeaarde outjie maar het die beste pelle en beste rugby spelers om my gehad,” het Moolman vertel.

“My pa was ‘n veearts in Dewetsdorp en het ons vanaf ‘n jong ouderdom geleer hoe om goed wat stukkend is, reg te maak,” het hy vertel.

Nadat sy vrou, Delene, ‘n onderwys pos in Springs aanvaar het, het hulle na Nigel getrek en bly vir die afgelope nege jaar in die dorp.

“My vrou se suster bly in Nigel en ons het gereeld kom kuier.

“Ek het nog altyd van die dorp gehou en my eerste indrukke was dat die mense hier opreg is en omgee vir mekaar,” het Moolman vertel.

Moolman kom uit ‘n groot familie en hy was deel van sewe broers en twee susters.

Alhoewel die Moolmans mekaar nie gereeld sien nie, hou hulle die Moolman Familie Fees elke tweede jaar.

“Met ons laaste fees was ons 154 familielede,” het hy vertel en bygevoeg dat sy ouers 62 jaar getroud was en hulle ‘n liefdevolle familie met ‘n hart vir mense is.

Moolman het die afgelope ses maande baie hartseer beleef toe hy drie broers in ses maande verloor het; elkeen is aan demensie oorlede op die ouderdomme van 76, 77 en 79.

Behalwe vir sy liefde vir sy familie en die gemeenskap, is hy ‘n buitemuurse persoon. Volgens Moolman sal sy vrou hom beskryf as iemand wat hiperaktief is, altyd besig is met iets en ‘n groot hart het vir sy medemens.

Sy dag begin elke oggend om 5:00, waar hy beplanning doen, en terwyl hy sy tuindienste span uitstuur, kyk hy waar hy daagliks kan gaan help met projekte in die gemeenskap.

Van parke se gras sny tot vergaderings bywoon by Ekurhuleni.

“Ek is nie suinig met my tyd nie, en sal tyd maak vir my gemeenskap. Nigel is ons dorp en saam kan ons ‘n verskil maak om die plek netjies te hou,” het hy gesê.

Moolman is geliefd in die gemeenskap en word waardeer vir sy toegewydheid.

Hy het as deel van die Nigel Clean-Up groep verskeie implemente wat geskenk was, reggemaak en een van die plaaslike besighede het vir hom ‘n trekker gekoop om te help met die lang gras in die parke en sypaadjies.

“Ons werk nie teen Ekurhuleni nie, ons werk saam met hulle.

“Om kinders te sien wat weer in die parke kan speel, maak my bly,” het hy gesê en bygevoeg dat Nigel aansoek gedoen het vir Lottoland Help ‘n Dorp omdat daar nog baie is om te doen. Intussen sit hy nie stil nie en doen daagliks sy deel vir die dorp.

Moolman se boodskap aan die gemeenskap is: “Elke dag is ‘n nuwe begin, ‘n nuwe sonsopkoms en ‘n nuwe kans om betrokke te raak.”

Aftree bestaan nie vir hom nie, want volgens hom, tree jy nie af as jy die lewe ten volle geniet nie en elke oomblik daarvan ‘n positiewe impak kan maak op jou medemens en omgewing.

As Moolman nie besig is met tuinwerk of gemeenskaps projekte nie, speel hy graag rolbal.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button