Leon Grieb (65), wat vir meer as 30 jaar in Heidelberg woon, is ‘n Heidelberger in murg en been wat ‘n uitdaging geniet.
Hy is bekend vir sy unieke houtwerk; ‘n stokperdjie wat om daagliks bedrywig hou.
Hy geniet dit om unieke items uit hout te skep, wat onder andere pophuise, speelkaste en ornamentele wapens insluit.

Leon is al vir 45 jaar met Hermien getroud en die egpaar het twee seuns, waarvan een in Heidelberg woon en die ander in Hermanus.
Die wapens wat hy maak is in groot aanvraag en mense gebruik dit om in hul huise uit te stal of bestel dit vir hul kinders om mee te speel.

Die HERAUT het ‘n paar vrae aan Leon gerig.
• Wanneer het jy met die stokperdjie begin?
Dit is al jare lank iets wat ek geniet om te doen en waarmee ek myself besig hou. Maar met die aanvang van Covid het ek my daarop toegespits en meer items begin maak.
• Watse wapens maak jy?
Ek maak onder andere messe, swaarde, rewolwers en gewere uit hout maar alles is net vir versiering. Wat ookal aangevra word, sal ek maak.
• Hoe lank vat dit om ‘n item te maak?
Dit vat gewoonlik sowat ‘n week om een item te voltooi. Ek gebruik geen gespesialiseerde masjienerie nie. Alles word per hand gedoen.
• Met watter hout werk jy die meeste?
Ek verkies Dennehout op die oomblik.
• Wat is jou inspirasie om die items te maak?
Ek is baie gelowig. Ek sien wat ek doen as loof en prys met my hande. Ek glo elke persoon moet sy of haar geloof uitoefen en met jou talente woeker. Jy moet nie wegkruip en jou talente onder ‘n klip los nie.
• Het jy enige goeie raad?
Moet nie iets wat jy vandag kan doen, laat oorstaan vir môre nie.
• Wat is jou leuse, waarvolgens jy lewe?
Wees gewillig om daagliks te leer en om ander te leer.
Die kragtigste wapen op aarde is die woord van God. Die boodskap word ook aangebring op al my houtwerk produkte.

Ek glo ook elke persoon kan terugploeg in hulle gemeenskap in. Dit is kosbaar om mense se gesigte te sien as hulle na my items kyk. Dit laat my voel of ek iets goed vermag het. Met elke item gaan daar ‘n stukkie van my saam, na wie ookal dit aanskaf. So kan ek ook my geloof na ander mense bring.
Leon stal gereeld uit by kermisse en ander geleenthede. Sy kontak nommer is 078 695 2882.





