Kundige boer deel waardevolle kennis by Sojadag
Volgens Bester is sojabone 'n gewas wat nou baie waarde bied aan boere en nie meer afgeskeep word nie. Dit is dus belangrik om kennis onder mekaar te deel om almal te help om volhoubaar te boer.
Danie Bester (40) boer vir die afgelope 12 jaar op die plaas Rietbult in Bafour met mielies, sojabone en sonneblom.
Bester beskik oor baie kennis wat hy vanuit Amerika geleer het oor die boer van sojabone en behalwe vir die kennis wat hy op sosiale media deel, nooi hy boere van oral oor om elke tweede jaar die Danie Bester Sojadag op sy plaas by te woon.
Die dag dien as ‘n platform vir boere en landboukundiges om die nuutste neigings in soja-produksie te verken.
“Die hoofdoel met die dag is om kennis te deel van mede hoë opbrengs boere asook om internasionale sprekers te kry om met die boere te praat,” het Bester vertel.
Die jaar se Danie Bester Sojadag het op 20 Maart plaasgevind. Toegangskaartjies was aanlyn verkoop en al 700 kaartjies was reeds voor die tyd uitverkoop.

Die dag was gevul met insiggewende sessies en demonstrasies, aangebied in samewerking met verskeie landbou industrie borge.
Boere het die geleentheid gehad om eerstehands kennis te maak met die jongste tegnologieë en praktyke wat soja-produksie kan verbeter.
Die byeenkoms het ook ‘n uitstekende geleentheid gebied vir netwerkvorming en die uitruil van idees tussen kenners en produsente.
Greg McClure, ‘n soja-boer van Amerika saam met twee plaaslike boere uit verskillende produksie areas was gassprekers om hul ervarings en kennis te deel.
Daar was ook 46 landbou uitstallers wat veral rygewas georiënteerd is en soja proewe was ook te besigtig.

“Sojabone is ‘n gewas wat nou baie waarde bied aan boere en nie meer afgeskeep word nie. Dit is dus belangrik om inligting te deel om almal te help om volhoubaar te boer. Daar is soveel potensiaal om sojas te verbeter,” het Bester gesê.
Bester het ‘n passie vir boer en veral om kennis te deel. Sy boodskap aan jong boere is:
“Doen dit net. Jy leer uit foute en suksesse en as jy ‘n ander resultaat wil hê, moet jy dinge anders doen en dit begin alles by daai eerste stap wat jy vat.”
Bester beplan om weer so dag te reël in 2027 en het genoem dat daar dalk nuwe sojaboon genetika wat na Suid-Afrika toe kom, bekend gestel kan word.
Volgens verskeie deelnemers was die Danie Bester Sojadag 2025 ‘n hoogtepunt op die landboukalender, met waardevolle insigte en praktiese wenke wat boere kan help om hul opbrengste te optimaliseer. Die sukses van die dag beklemtoon die belangrikheid van innovasie en samewerking in die landbousektor.




