Nigel gemeenskap verenig vir ‘n skoner dorp
Nigel Clean Up Initiative is geregistreer as 'n nie-winsgewende maatskappy met die doel om die dorp skoon te hou en om 'n gesonde en ekovriendelike omgewing te behou.
Wat begin het as informele skoonmaak aksies, het gegroei tot ‘n amptelike geregistreerde nie-winsgewende maatskappy, bekend as die Nigel Clean Up Initiative.
Die direksie van die Nigel Clean Up Initiative wat deur twee plaaslike besighede genomineer is, is André Moolman, Rickus Smit en Dries Brandt.
Hierdie toegewyde groep werk reeds onverpoos om strate, openbare ruimtes en parke van rommel te bevry, met die doel om ‘n netjiese en gesonde omgewing vir almal te skep.
Met die ondersteuning van plaaslike besighede, skole en inwoners, hoop die organisasie om volhoubare verandering teweeg te bring en bewusmaking oor verantwoordelike afvalbestuur te verhoog.
Die Nigel Clean Up Initiative nooi die gemeenskap om die genomineeerde direksie te ondersteun en deel te wees van hierdie inspirerende beweging.
“Saam kan ons as gemeenskap ‘n blywende verskil maak en die dorp ‘n trots vir almal maak,” het Moolman gesê.
Hy het bygevoeg die Nigel Clean Up groep het reeds ongeveer 500 lede en met die registrasie van ‘n amptelike maatskappy sal administrasie, logistieke en finansiële kwessies professioneel bestuur word.
Volgens Moolman is die maatskappy se prioriteit om die dorp skoon te hou en om terselftertyd ‘n groen omgewing te bevorder.
“Ons sal as ‘n maatskappy saam met die CoE werk en gereeld met hul vergader,” het Moolman gesê.
Hy nooi die gemeenskap uit om hom te kontak vir navrae oor die maatskappy. Vergadering datums en addisionele lede van die maatskappy sal na afloop van hul eerste vergadering bekend gemaak word.
Kontak Moolman by 076 811 4953.



