Nigel VLU vier uniekheid met geur en kleur
Die tak vergader een keer per maand en staan reg om nuwe lede te verwelkom.
Die VLU Nigel-tak se lede het op 10 April hul maandelikse vergadering met kleur en geur gehou.
‘Wat is die aroma wat jy agterlaat’ was die tema vir die dag.
Gasvrou Mary-Lynn Jeffrey het tydens die opening by die tema aangesluit en gepraat oor ‘n aangename geur wat deur elkeen afgeskei word.
Hettie Botha het vir die dames ‘n paar bladsye uit die VLU se Engelse skrywer van die jaar, Sally Andrews se boek Recipe for love and murder voor gelees.

Die boek is nie net ‘n samevatting van geurige resepte nie, maar ook resepte vir liefde en omgee.
Die voorsitter, Anna-Marie Axer het ook by die tema van geur en kleur aangesluit.

Sy het vir elke dame pen en papier uitgedeel waarop hulle iets moes teken wat hul uniekheid beskryf.
Na die tyd het Anna-Marie die kunstigheid voorgelê en die lede moes raai wie dit geteken het.
Van ‘n pilaar wat ondersteuning voorstel tot ‘n minibus wat ‘n hart wat altyd plek het vir nog liefde, is geteken.
“Gaan leef jou uniekheid uit elke dag,” het Anna-Marie gesê.

Daar is ook tydens die vergadering gepraat oor ‘n gesonde leefstyl en Mary-Lynn het ‘n oorsig gegee van borskanker risiko’s.
Hettie Botha, Elsa Greyling en Rina Murphy het hul 10 jaar lidmaatskap knopies ontvang.
Vir meer inligting of om by die tak aan te sluit, kontak Elsa Greyling by 083 703 1763.



