Local news

Oumagrootjie (80) veg moedige stryd teen kanker

Eunice vertel haar geloof hou haar staande en dat mense wat haar nie eers ken nie, bereid is om te help, maak haar opreg dankbaar.

Eunice Pretorius (80), ‘n geliefde inwoner van Heidelberg, het haar stryd teen borskanker met die gemeenskap gedeel nadat sy in Mei 2024 dié hartverskeurende diagnose ontvang het.

Na twaalf weke van intensiewe chemoterapie het sy in November ‘n dubbele mastektomie ondergaan.

Sy en haar man, Wouter (82), is jarelange inwoners van Heidelberg en het ook in dieselfde maand hul 60ste huweliksherdenking gevier.

Eunice het nie net haar persoonlike stryd oorwin nie, maar ook die liefde en toewyding wat hul lang huwelik kenmerk, met die gemeenskap gedeel.

“Oor die algemeen het ek altyd goeie gesondheid geniet en die kanker diagnose was eintlik vir my ‘n skok,” het Eunice vertel.

Nadat Eunice en Wouter vir ‘n paar jaar in ‘n aftree oord gewoon het, bly hulle tans by hul kleindogter Elize Fincham, haar man en drie kleinkinders.

“Die Here het ons geseën met twee dogters, ses kleinkinders en elf agterkleinkinders wat ons lewe ‘n fees maak.

“Die stryd teen kanker is ‘n opdraende een maar ek hou my oë op die Here wat my die moed en deursettingsvermoë gee om aan te hou veg,” het Eunice vertel.

Sy word tans behandel met hormoon onderdrukkers en moet elke derde week verdere behandeling by die Charlotte Maxeke hospitaal kankerafdeling ontvang.

“Ons wag nog vir ‘n behandelingsplan vir bestraling en daar word deurlopend verdere toetse gedoen,” het Eunice genoem.

Sy het ook vertel van haar man Wouter en haar familie wat haar met liefde en geduld bystaan.

Die egpaar het nie ‘n mediese fonds nie en maak gebruik van staats fasiliteite.

Hul kleindogter, Elize het haar ouma by die skarefinansiering platform BackaBuddy geregistreer om fondse in te samel.

Eunice Pretorius kort na die dubbele mastektomie wat sy in November verlede jaar ondergaan het.

“Na my pa se dood in 2003 het my ouma Eunice en oupa Wouter hul lewens opsy gesit om my ma te help om ons te help grootmaak. “Al wat hulle het is ‘n kamertjie met ‘n paar meubels.

“Ons maak beurte om ouma hospitaal toe te neem.

“Dit is ‘n klein prys om te betaal vir alles wat hulle vir ons gedoen het.

“My ouma is meer as net ‘n ouma; sy is ‘n voorbeeld van ‘n Godvresende vrou en ek is trots om haar kleindogter te wees,” het Elize vertel.

Vir Eunice, is dit ‘n riem onder die hart om te weet mense gee so baie om.

“Op die oomblik voel ek goed, maar ook onseker. As die uitslae van die toetse bekend is en ons weet wat die plan vorentoe is, sal die onsekerheid ook verdwyn,” het Eunice gesê en haar dankbaarheid uitgespreek dat sy haar storie kan deel.

“Die wat in Jesus Christus glo hoef nie bang te wees vir slegte nuus nie. Hy ken ons pad en het reeds vooruit geloop. My geloof hou my staande en dat mense bereid is om ‘n ou tannie wat hulle nie eers ken nie te help, maak my opreg dankbaar,” het Eunice afgesluit.

BackaBuddy is ‘n gewilde Suid-Afrikaanse skarefinansiering platform wat individue help om fondse in te samel vir persoonlike en mediese behoeftes.

Om Eunice te help, kontak Elize by 064 336 8685 of besoek BackaBuddy by Brave Fighter – Eunice against Breast Cancer

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button