Gemeenskapsinisiatief bring verandering in Nigel
Bome koel ons aarde af, maak ons lug skoon en voed ons siele.
Met ‘n stil oortuiging van ‘ons verdien beter’ en geïnspireer deur die waardes van die Move 1 Million beweging, het EarthOwl die eerste stap geneem en saam met vrywilligers ‘n verwaarloosde gebied in Alra Park te begin skoonmaak.
Wat as ‘n klein daad van diens gelyk het, het ‘n vlam aangesteek; een wat ander harte aangeraak het en ‘n beweging laat groei het.
Een van die inspirasies agter die beweging is Skoon Heidelberg, ‘n gemeenskap inisiatief wat deel is van Heidelberg Hope en wat reeds in 2021 begin het.
Vir die afgelope vier jaar, sonder onderbreking, word die dorp elke Donderdag skoongemaak.
Hulle wag nie vir toestemming of fondse nie. Hulle is nie afhanklik van erkenning nie.
Hulle is Heidelbergers met vasberadenheid; mense wat weier om toe te kyk hoe hul omgewing verval.
Gewapen met sakke, handskoene en ‘n hart vol liefde vir hul dorp en omgewing, doen hulle die harde werk – week na week.

“Skoon Heidelberg herinner ons daaraan dat ‘n skoon omgewing meer is as net ‘n mooi gesig.
“Dit is ‘n plek van trots, veiligheid, en hoop. Kinders verdien dit om in skoon strate te speel. Ouer mense verdien dit om met waardigheid te kan stap. En ons almal verdien dit om in ‘n dorp te woon wat reflekteer wie ons is of wie ons wil wees,” het Roche Pepler van EarthOwl gesê, en bygevoeg dat Skoon Heidelberg ‘n inspirasie vir hulle is wat soortgelyke skoonmaakprojekte in Nigel doen.
Met April as Aardemaand wil Pepler mense aanmoedig om nie net betrokke te raak by skoonmaakprojekte nie, maar ook om ‘n boom te plant.
“Vir April, as Aardemaand, moet ons meer doen as net oor verandering te praat; ons moet dit plant,” het Pepler gesê.
“By EarthOwl glo ons dat elke boom wat geplant word, ‘n belofte vir die toekoms is -‘n klein, eenvoudige handeling met ‘n blywende nalatenskap. ‘n Boom staan nie net daar nie; dit gee skadu, dit skuil, dit red. Dit koel ons aarde af, maak ons lug skoon en voed ons siele. In ‘n wêreld wat te vinnig brand, is dit ‘n daad van hoop om iets groen te plant.”
Aardemaand is die perfekte oomblik om jou huis te verfraai, jou koolstof voetspoor te verminder, of selfs ‘n nuwe familietradisie van saam plant te begin.



