Boeretroosdag word gevier met koffie en koeksisters
Die ATKV Heidelberg-tak het nog 'n eg Suid Afrikaanse dis, die koeksister, saam met hul boeretroos te geniet.
Die Afrikaanse taal Eeufeesviering duur voort en op 27 April word Boeretroosdag gevier.
Boeretroosdag, of Koffiedag, erken een van die gewildste Suid-Afrikaanse tradisies, naamlik die koffiebeker.
Afrikaans het dikwels ’n rol gespeel in die rustige koffiegeselsies van die plaaslewe, en Boeretroosdag is ’n dag om die warm verwelkoming en die gemeenskaplike tradisie van saam koffie drink te vier.
Hierdie dag simboliseer die vreugde van eenvoud, en hoe geselskap en die deel van ’n koppie koffie mense nader aan mekaar bring.
Die woord boeretroos is ’n samestelling van boere en troos, wat verwys na die groot voorliefde wat boere nog altyd vir koffie gehad het.
Die troos in die naam dui op die versterkende en stimulerende effek van koffie, veral as gevolg van die kafeïen wat daarin voorkom.

Daar is ook ’n interessante historiese perspektief: Tydens die Groot Trek was tee aanvanklik die voorkeur drank, maar die voorraad het vinnig opgeraak, terwyl koffie langer gehou het.
Toe selfs die koffie voorraad uitgeput was, het Voortrekkers begin om die wortels van die witgatboom te rooster en te maal om ’n plaasvervanger vir koffie te maak. Hierdie troosdrankie het uiteindelik die naam boeretroos gekry, omdat dit die boere moes troos in die afwesigheid van ware koffie.
Dié Afrikaanse term word steeds vandag gebruik.
Die ATKV Heidelberg-tak het ter viering van die dag bymekaargekom en saam met ’n koppie boeretroos nog een van Suid-Afrika se unieke lekkernye, die koeksister, geniet.



