Mej Heidelberg Hope geroep vir bediening in Amerika
Maloney vra die gemeenskap om haar te ondersteun in haar roeping en het gesê dat dit meer is as net 'n reis maar gehoorsaamheid aan God se doel met haar lewe.
Shané Maloney (21), die huidige Mej Heidelberg Hope, het ’n lewensveranderende geleentheid gekry om in voltydse bediening by FCA (Fellowship of Christian Athletes) in San Diego, Kalifornië, te dien.
Sedert 1954 daag FCA afrigters en atlete op professionele, kollege-, hoërskool-, junior hoër- en jeugvlakke uit om die platform van sport te gebruik om afrigters en atlete met die transformerende krag van Jesus Christus te bereik.
Die FCA fokus daarop om gemeenskappe regoor die wêreld te dien deur afrigters en atlete te betrek, toe te rus en te bemagtig om die wêreld deur die evangelie te verenig, inspireer en verander.
“Deur baie gebed en bevestiging van die Here, het ek ’n internskap by FCA aanvaar – ’n Christus-gesentreerde bediening wat my toerus vir my roeping in die Koninkryk,” het Maloney gesê.
“Dit is meer as net ’n reis; dit is ’n stap van gehoorsaamheid en oorgawe aan God se doel met my lewe. Gedurende die internskap sal ek dien, groei en in die bediening werk, terwyl ek volkome deur geloof lewe,” het Maloney vertel.
Een van haar take is om fondse in te samel om haar basiese lewensuitgawes te dek, insluitend behuising, kos en ’n klein maandelikse toelae vir daaglikse behoeftes, aangesien die internskap vrywillig is.
“Ek glo wanneer God jou stuur, Hy ook sal voorsien deur die harte en hande van ander,” het sy gesê, en bygevoeg as enigiemand voel om in haar reis te saai, sy innig dankbaar sal wees.
“Elke bydrae help, en meer as enigiets, vra ek vir almal se gebede terwyl ek gaan waarheen Hy my lei,” het Maloney bygevoeg.
Maloney vlieg Amerika toe aan die einde van Mei en bedank die gemeenskap van Heidelberg dat hulle in haar geglo het.
Vir dié wat haar wil help in haar roeping of ’n bydrae wil maak, kan haar kontak by shane12maloney@gmail.com



