Local news

Prontuit: Heidelberger en oud-Volkie maak naam in die filmbedryf in Amerika

Anja het saam met Blake Bodlak onlangs die toekenning van uitnemendheid by die Bison Bison-rolprentfees vir hul studentefilm, The Bittersweet Truth About Parking, gewen.

Anja Oelofse (21) het in 2021 gematrikuleer en bly vir die afgelope drie jaar in die VSA, waar sy by Wayne State College in Nebraska digitale filmproduksie en teorie studeer.

Anja het saam met Blake Bodlak, wat by dieselfde kollege gekwalifiseer het, onlangs die toekenning van uitnemendheid by die BisonBison rolprentfees vir hul studentefilm The Bittersweet Truth About Parking gewen.

Die Heraut het met Anja kontak gemaak om te hoor waar haar liefde vir die filmbedryf vandaan kom.

“My liefde vir film is van jongs af gekweek. Ek het grootgeword waar my ouers my en my broer gereeld filmteater toe geneem het.

“In Graad Twee het daar ’n akteur wat na die skool toe gekom. Hy het ons vertel het hoe hy in die filmbedryf beland het en hoe dit agter die skerms werk.

“Dit was die eerste keer wat ek besef het dat dit ’n werk is wat mense doen,” het Anja vertel.

Sy het die naweek daarna ’n toneelspel kursus bygewoon en vertel dat dit ’n lewensveranderende geleentheid was.

“Ek het verlief geraak op die medium van film en toneelspel. Dit is toe dat ek besef het ek wou niks anders doen nie. Film is wat ek wou doen vir die res van my lewe,” het sy vertel.

Sy het drama as ’n ekstra vak geneem en elke jaar aan kunswedstryde deelgeneem.

Sy het ook ’n akteurskursus bygewoon wat deur Renier Weideman aangebied is.

Anja vertel sy wou nog altyd in Amerika gaan studeer omdat dit vir haar die mees logiese opsie was vir die bedryf waarin sy haar wou bevind.

“Amerika is die ‘film hot spot’. Toe dit uiteindelik tyd was om te kies waar in die VSA ek wou studeer, was dit nie so maklik nie.

“Ons het deur ’n agentskap gewerk wat my gehelp het om ’n universiteit te kry wat bekostigbaar was en ’n filmprogram gehad het.

“Ek het toe besluit om by Wayne State College in Nebraska te gaan studeer.

“Ek studeer digitale filmproduksie en -teorie, asook aanlyn- en sosiale media en grafiese ontwerp,” het Anja gesê. Sy geniet al die stappe van produksie en haar gunsteling deel is die ontwikkeling van die storielyn en hoe dit vorm kry tydens die dae op stel.

Dit is ook vir haar magies om die woorde wat sy geskryf het te sien lewe kry en ’n vorm van sy eie aanneem.

Anja het nie verwag om ’n prys te wen nie, en het genoem BisonBison is een van die groot film kompetisies waaraan die kollege deelneem en dat daar strawwe mededinging is.

“Net een ander student van Wayne State College het dit vantevore gewen. Ek is dankbaar dat ons dit gewen het en ook baie trots op die film,” het Anja vertel.

The Bittersweet Truth About Parking is ’n komedie oor ’n man en sy vreemde, obsessiewe verhouding met ’n parkeerterrein.

Die idee het ontstaan nadat Anja se kamermaat by die kollege ’n snaakse opmerking gemaak het oor die universiteit se gebrek aan parkering. Die opmerking het haar bygebly en geïnspireer om ’n kortverhaal te skryf.

Anja en Blake was op daardie stadium goeie vriende, en sy het hom gevra om haar storie te lees en sy opinie te gee.

“Hy het so baie daarvan gehou dat ons besluit het om dit saam oor te skryf in ’n kort draaiboek,” het Anja vertel.

“Die ding wat my die meeste motiveer, is my jonger self. Ek wil die klein dogtertjie wat verlief geraak het op film as kunsvorm soveel jare gelede, en wat alles in haar vermoë gedoen het om deel te wees van die industrie, trots maak.”

Anja se raad vir jong filmmakers is om nooit op te hou leer nie en om oop te wees vir nuwe ervarings waaruit jy kan leer.

“Die enigste manier om goed in kuns te wees, is om ’n empatiese lewe te lei. Moet nooit ophou werk aan jou eie handwerk nie, en hou aan, al sê mense jy kan nie.”

Net om in die film industrie te werk en ’n bestaan te maak, is reeds ’n droom van Anja wat waar geword het, maar een van haar grootste drome is om eendag na die Oscars toe te gaan.

“Film is ’n kragtige vorm van kuns waar jy ’n miljoen lewens leef en ander mense se laagste en hoogste punte kan ervaar. Film kan vorm en verander hoe jy die wêreld sien. Ondersteun filmmakers deur films in teaters te gaan kyk,” het Anja afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button