Local news

Kunstenaar vertel stories met pensketse

Marili glo enigiemand kan suskses bereik indien daar 'n wil is.

Heidelberg huisves vele inwoners met besondere talent.

Een van hierdie individue is Marili Prinsloo, ‘n potlood- en houtskool kunstenaar.

Marili is besig om haar naam te vestig, nie net met haar pragtige tekeninge nie, maar ook met haar unieke benadering tot penskets.

Sy is ‘n vryskut kunstenaar en kinderboek illustreerder.

“Ek geniet dit om portrette te teken wat mense sowel as diere insluit. Ek probeer altyd iets uniek teken wat ‘n storie kan vertel,” het Marili gesê.

Sy woon al nege jaar in Heidelberg en die HERAUT het met haar gesels.

Wanneer het jy begin teken?

Ek het agt jaar gelede die eerste keer vir my dogter begin teken. ‘n Vriendin het dit raakgesien en gevra om vir haar ‘n penskets te doen. Daarna het ander mense ook my sketse begin raaksien en het ek meer versoeke vir sketse ontvang.

Na ‘n tyd het ek eers halt geroep aangesien ek op my familie wou konsentreer.

In 2019 het ek weer die potlode opgevat en begin teken, grootliks weens finansiële druk en die feit dat dit moeilik was om ‘n vaste werk te vind.

Dit het my genoodsaak om selfondersoek te doen en te besluit wat my weg vorentoe moes wees.

Die besluit het verseker dat my familie nie honger ly nie en dat ons die nodige kan doen.

Ek werk vir ‘n beter toekoms vir my dogters en wil verseker dat ek ‘n voorbeeld vir hulle is.

Het jy kuns studeer?

Nee, ek het myself geleer. Ek vind dit makliker om myself te leer. Sodoende is ek my enigste en strengste kritikus.

Stal jy iewers jou kuns uit?

Ek stal op die oomblik net in die Mediterreense Plaaswinkel uit wanneer daar markdae is.

Ek doen gewoonlik pensketse wanneer dit aangevra word. Ek wil hê my sketse moet uniek wees en nie iets wees wat enige plek bekombaar is nie.

Het jy raad vir iemand wat iets wil begin?

Enige persoon is daartoe in staat om iets te doen, solank daar’n wil is. Dit hang van jou af wat jou dryfkrag en inspirasie is en wat jy wil bereik.

My raad is klim uit die donkerte wat jou terughou en maak ‘n verskil.

Persone wat met Marili in aanraking wil kom, kan haar kontak by 079 900 1887.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button