Skrander Laerskool Hannes Visagie leerder is ‘n kampvegter vir Afrikaans
Annely het in een jaar 47 verskillende items vir Eisteddfod gedoen en die jong leerder skryf ook haar eie gedigte.
Annely van den Heever is onderhoofmeisie van kultuur by Laerskool Hannes Visagie en is ook aangewys as die toppresteerder in Afrikaans.
Behalwe vir haar betrokkenheid by die skoolkoerant Oppiekoppie, neem sy van kleins af deel aan eisteddfods en skryf ook haar eie gedigte.
Annely is ’n boekwurm en het vertel dat haar liefde vir lees van haar ma af kom, wat self baie lief is vir lees.
“My ma sorg altyd dat daar genoeg boeke beskikbaar is vir my om te lees, en ek is dol oor die fantasiewêreld wat dit skep. Ek het eisteddfods op skool begin doen en dit het dadelik vir my ’n gunsteling geword. Hier leef ek my in die drama in.
“Skryf vloei natuurlik uit my liefde vir lees en fantasie,” het Annely vertel.
Sy het verlede jaar aan sewe verskillende eisteddfods deelgeneem en 47 verskillende items gedoen, waarvan sy in drie items itemwenner was, in vier items afdelingswenner, in twee items algehele itemwenner, en in twee items nasionale aanlyn itemwenner was.
Sy was itemwenner in die Conspirito Nasionale Forte-aanlynronde vir Voorgeskrewe Poësie asook Prescribed Poetry, en het 96% vir albei behaal.
Annely is ook lief vir skaak en het die afgelope twee jaar aan die Gauteng-skaakkampioenskappe deelgeneem.
Sy neem ook al die afgelope drie jaar aan die Gauteng wiskunde-olimpiade deel en het verlede jaar derde in Gauteng geëindig.
Sy is ook baie lief vir netbal en het verlede jaar aan die Oos-Transvaal Fast 5-Bokkieweek deelgeneem.
Vir die viering van Afrikaans se Eeufees en die nasionale Teaterdag wat in Maart gevier is, is Annely gevra om een van haar gedigte te deel.
Generaal die Kapenaar
Generaal die Kapenaar,
Jou woorde is swaar, maar o te waar
Ek mis my vrou, ek mis my seun
Ek mis my dogter en ek mis die reën
Met sy skoene oud en voos
Stap hy deur grond, koud en kleurloos
Hy verlang na ‘n Sondag oggend by die kerk
Die reuk van die bloed van soldate is veels te sterk
Hy verlang na sy vrugteboorde bedek met reën
Hy weet nou dit was ‘n ware seën
Generaal was tog net ‘n boer
Nou het hy jong soldate om aan te voer
Hy weet sy familie sit nou en sug:
‘Wen tog die oorlog en kom gou terug!’



