Voortrekkers leer van ekostene
Ekostene verskaf nie net funksionele strukture nie, maar bevorder ook omgewingsbewustheid en gemeenskapsbetrokkenheid.
Heidelberg Hope het op 19 Mei vir ‘n groep Voortrekkers geleer hoe om ekostene te maak.
‘n Ekosteen is ‘n bousteen wat geskep word deur skoon, droë en nie-herwinbare plastiek afval styf in ‘n plastiekbottel te pak.
Hierdie ‘stene’ word dan as volhoubare boumateriaal in verskeie konstruksie projekte gebruik, wat plastiek effektief hergebruik wat andersins in stortingsterreine of die see sou beland.

Om ‘n ekosteen te skep is ‘n eenvoudige proses:
• Versamel nie-herwinbare plastiek soos omhulsels, sakke en verpakkingsmateriaal.
• Maak seker dat alle items skoon en heeltemal droog is om bakteriese groei te voorkom.
• Gebruik ‘n skoon, droë plastiekbottel
• Gebruik ‘n stok of soortgelyke gereedskap en pak die plastiekafval styf in die bottel. Die doel is om die bottel so solied moontlik te maak, om te verseker dat daar geen lug gapings is nie.
• Sodra dit heeltemal verpak is, maak die bottel stewig toe met sy doppie.

Dit is belangrik om daarop te let dat materiale soos glas, metaal, papier en organiese afval nie in ekostene ingesluit moet word nie, aangesien dit die integriteit van die baksteen kan benadeel en beter verwerk word deur ander herwinnings- of kompos metodes.
Ekostene is veelsydig en kan in verskeie projekte gebruik word insluitend die bou van skole, huise en gemeenskap sentrums waar tradisionele boumateriaal onbekostigbaar is asoook in tuine en die maak van meubels.
Hierdie toepassings verskaf nie net funksionele strukture nie, maar bevorder ook omgewing bewustheid en gemeenskap betrokkenheid.
“Die Voortrekkers het die dag geniet en die belangrikste is dat ons die kinders van jongs leer hoe om plastiek en ander afval materiaal te herwin vir ‘n groener aarde,” het Nicolene Neveling Heidelberg Hope woordvoerder gesê.



