Local news

Winterwarmte met ‘n draad van liefde: Skoolprojek maak verskil

Die skool het ‘n paar jaar gelede begin met die brei-projek waar leerders geleer word hoe om blokkies te brei.

Die leerders en ouers van Laerskool AG Visser het hul harte en hande saamgespan in ‘n inspirerende brei-projek om die gemeenskap te ondersteun tydens die koue wintermaande.

Die projek, wat deur die skool self begin is, leer kinders hoe om te brei. Dit betrek ook die ouers, sodat almal blokkies kan brei wat uiteindelik aanmekaar gewerk word om warm komberse te vorm.

“Ons by Laerskool AG Visser ontvang so baie van die gemeenskap, en daarom het ons besluit om ’n projek aan te pak as ’n blyk van dankbaarheid,” het Selma Marx, skoolhoof, vertel.

Die gekletter van breinaalde by Laerskool AG Visser sorg vir gebreide blokkies wat aangemaar gewerk sal word vir komberse. Kaytlin Griffith, Leslé Viviers, Amorique Visser en Marnu Viviers neem ook deel aan die brei-projek.

Die skool het ’n paar jaar gelede met die projek begin en moedig steeds leerders en ouers aan om blokkies te brei vir die maak van kombersies.

Die knie-kombersies word dan aan verskillende instansies geskenk om ander se harte en lywe warm te maak.

Marx het vertel dat die skool die brei-projek aanvanklik as ’n wintersprojek begin het. Die gekletter van breinaalde het egter deur die gemeenskap versprei, en die skool ontvang nou dwarsdeur die jaar blokkies vir kombersies.

“Ons oorhandig die kombersies aan instansies wat dit kan gebruik om aan behoeftiges te voorsien. Met hierdie projek hoop ons om ’n verskil te maak in iemand se lewe gedurende die strawwe, koue winters,” het Marx gesê.

Die kleurvolle komberse word aan behoeftiges geskenk om die winter meer draaglik te maak.

“Ons wil elkeen wat help om te brei opreg bedank vir al hul bydraes. Aan elke ouma, tannie en mamma wat met liefde elke blokkie brei, sê ons baie, baie dankie.”

Laerskool AG Visser se brei-projek is ’n pragtige voorbeeld van hoe klein dade van omgee ’n groot verskil kan maak.

Die skool moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak en voort te gaan met hierdie hartverwarmende inisiatief.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button