Local news

Prontuit: Van skoolbank tot stuurkajuit: Matrikulant volg sy passie vir lugvaart

Karlu streef daarna om 'n kommersiële vlieënier te word en het groot toekomsplanne om ook eendag 'n mentor vir jong vlieëniers te wees.

Die HERAUT het hierdie week gaan kennis maak met toekomstige kommersiële vlieënier, Karlu Stander.

Karlu (18) is die hoofseun van Hoërskool Die Anker in Brakpan en tans besig om sy passie vir lugvaart na nuwe hoogtes te neem. Hy het van jongs af ‘n liefde vir vliegtuie gekoester, en nou, as ‘n deeltydse student by Airborne Aviation Vliegskool in Brakpan, werk hy hard om sy droom van vlieg te verwesenlik.

Met toewyding en vasberadenheid balanseer Karlu sy akademiese verantwoordelikhede met praktiese vliegopleiding, wat hom ‘n stap nader bring aan ‘n loopbaan in die lugvaartbedryf.

Karlu was van kleins af versot op vliegtuie en vertel dat hy vliegtuigbeddegoed gehad het, en dat sy kamer versier was met alles wat met lugvaart te doen het.

“Ek het van jongs af geweet ek wil eendag in die lug wees en is geïnspireer deur Scully Levin, ʼn Suid-Afrikaanse lugvaart legende. Sy verhaal van dissipline en passie het my altyd gemotiveer,” het Karlu vertel.

Om sy pligte as hoofseun en sy deeltydse studies by die vliegskool te handhaaf verg dissipline en balans.

“Ek moes leer om leiding te neem sonder om my medeleerlinge te vervreem of my deeltydse vlieglesse af te skeep.

Een van my grootste suksesse by die skool was om ʼn kultuur van samewerking en respek tussen leiers en leerlinge te vestig, veral deur span- en welwillendheidsprojekte.

“Met leiers en leerders wat mekaar ondersteun, maak dit die druk op my as hoofseun effens ligter,” het Karlu gesê.

Hy het bygevoeg dat besluitneming onder druk, aanpasbaarheid, selfdissipline en duidelike kommunikasie van kardinale belang is in beide rolle.

Karlu Stander is op sy gelukkigste in die lug en het van kleins af geweet hy wil eendag ‘n vlieënier word.

Dit vereis dat jy kalm bly in stresvolle situasies en dat jy altyd die groter prentjie raaksien.

Karlu se fokus is tans op die voltooing van matriek, en hy beplan om volgende jaar voltyds aan te sluit by die vliegskool om sy private pilot licence (PPL) te voltooi en dan voort te gaan met sy commercial pilot licence (CPL).

“Ek streef daarna om ʼn kommersiële vlieënier te wees. Dit is vir my die perfekte kombinasie van avontuur en verantwoordelikheid,” het Karlu gesê.

Hy sien uit na die vryheid van die lug en die verantwoordelikheid om mense veilig te vervoer.

Die uitdagendste deel volgens hom sal waarskynlik wees om konstant op sy beste te presteer, selfs onder druk.

Oor 10 jaar sien Karlu homself as ʼn kaptein by ʼn groot lugredery.

“Ek beplan om leierskap aan te wend deur ander jong vlieëniers te mentor en veiligheid en spanwerk in die lugvaartbedryf te bevorder,” het Karlu vertel.

Hy is gevra wat hom gemotiveerd hou en het geantwoord: “Ek onthou altyd hoekom ek begin het. Wanneer ek moeg raak, dink ek aan die einddoel, die dag wanneer ek eendag my vleuels gaan ontvang.

“Ek sien terugslae as geleenthede om te leer.

“Ek reflekteer, pas aan en probeer weer want volharding is alles,” het Karlu afgesluit.

Hy het ook sy boodskap aan jong leerders gedeel: “Bly nederig, laat jou Hemelse Vader jou lei. Moenie wag vir iemand om jou die pad te wys nie, begin nou. Wees gedissiplineerd en hou jou oë op jou doel.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Katlego Tau

A skilled Social Media Manager and Digital Content Creator with over 9 years of experience, great at creating engaging content and driving online presence.

Related Articles

Back to top button