Heidelberg Dameskring vier Afrikaans se 100ste bestaansjaar met kultuuraand in Klipkerk
Die Dameskring het op 21 Mei tydens 'n kultuuraand in die Klipkerk saam met plaaslike leerders hulde gebring aan die taal se erfenis.
Die Dameskring Heidelberg Suikerbosrand-tak, onder leiding van voorsitter Petra Basson, het onlangs Afrikaans se 100ste bestaansjaar gevier met ‘n spesiale kultuuraand in die historiese Klipkerk.
Plaaslike skoliere het hul liefde vir die taal uitgeleef deur sang, optredes en poësievoordragte. Basson het die belangrikheid van jeugbetrokkenheid in taalbehoud beklemtoon.
“Afrikaans is nie net ‘n taal nie – dit is ‘n hartsklank, ‘n kultuur en ‘n leefwyse wat ons met trots moet bewaar,” het sy gesê. “Die toekoms van Afrikaans begin by kinders wat in hul huistaal onderrig word.”

Die Dameskring, gestig in Oktober 1967, is ‘n Christelike organisasie vir Afrikaanse vroue vanaf 18 jaar. Die tak beywer haar vir die bevordering van die Afrikaanse kultuur, waardes, geskiedenis en tradisies, en streef daarna om vroue as leiers en verskilmakers in hul gemeenskappe te bemagtig.
Basson, reeds vier jaar voorsitter van die Suikerbosrand-tak, is ‘n gebore Heidelberger en oud-onderwyseres van Laerskool AG Visser. Haar liefde vir Afrikaans is diep gewortel in haar identiteit en loopbaan. Vir haar is Afrikaans nie net ‘n kommunikasie-instrument nie, maar ’n erfenis en leefstyl.

Die kultuuraand was deel van die nasionale Afrikaans 100-inisiatief, wat poog om die taal se ryk nalatenskap te vier en te verseker dat dit aan toekomstige geslagte oorgedra word.
Vir meer inligting oor die Dameskring Heidelberg Suikerbosrand-tak, kontak Petra Basson by 082 720 2400.




