Local news

Veiligheid, misdaadbekamping vir almal sê GPF Nigel voorsitter

Ons moet hande vat en saam opstaan teen misdaad om Nigel weer veilig te maak.

HERAUT het die week met ‘n groot staatmaker in die Nigel-gemeenskap gesels.

Ryan O’Neill Scheepers (42) is die voorsitter van die GPF in Nigel.

Ryan het grootgeword in Alra Park en skool klaar gemaak by Alra Park Sekondêre Skool. Na skool het hy twee jaar toerisme studeer en het ondervinding in vervoer, voertuigopsporing, rykamera, FMCG en CCTV-installasies opgedoen.

In 2013 het Ryan sy eie besigheid begin wat CCTV-stelsels verhuur. Hy het dit aanvanklik deeltyds gedoen, maar sedert 2016 voltyds bestuur.

Ryan is ‘n kranige sportman en het op skool in rugby, krieket, atletiek en sokker uitgeblink. ‘n Groot liefde is sy Pitbulls, Jack Russells en African Grey-papegaai. Hy gaan soms jag saam met vriende, maar sy grootste plesier is om by die huis saam met sy vrou en familie te braai.

“My familie is vir my baie belangrik, en ek probeer so veel moontlik tyd met hulle spandeer,” het Ryan gesê.
Ryan het in Augustus 2024 by die GPF aangesluit en dien sedert September 2024 as voorsitter.

“Ek het besluit om by GPF en anti-misdaad eenhede aan te sluit omdat ek gesien het wat misdaad daagliks aan die kwesbare lede van ons gemeenskap doen,” het Ryan gesê. Hy beklemtoon dat die kern van die GPF is om saam met SAPD misdaad te beveg.

“Ons werk hard om ‘n goeie verhouding met SAPD te handhaaf sodat ons saam Nigel kan beveilig. GPF Nigel is die mees inklusiewe forum in die Oosrand, met lede van alle gestremdes, rasse en geslagte, en ons is trots daarop,” het hy bygevoeg.

Volgens Ryan is fondse tans een van die grootste uitdagings vir die GPF. Hy doen ‘n beroep op alle besighede om saam met die GPF te werk om die dorp op alle fronten te beveilig.

“Donasies is baie welkom, en as voorsitter is ek bereid om ons strategie en missie vir hoe om Nigel te beveilig te deel. Ons wil die plaaslike besighede meer betrek.

“As ons as gemeenskap, GPF en SAPD saamwerk, kan ons die doelwitte wat ons gestel het vir misdaadbekamping makliker bereik. Veiligheid is vir almal in die dorp,” het Ryan beklemtoon.

Vir Ryan is die hartseerste insidente die moorde en molestering van minderjarige kinders. Hy getuig ook van hoe die gemeenskap saamstaan, veral tydens die onrus in 2021 toe daar dreigemente was om winkels en infrastruktuur te beskadig.

SAPD Nigel en GPF werk nou saam om inligting oor misdaad te deel, gesamentlike operasies te reël en die gemeenskap aan te moedig om aktief teen misdaad op te tree.

Ryan beskryf sy dag as vol vergaderings, besigheid bestuur en beskikbaar wees om te help waar die gemeenskap hom nodig het.

“Saam kan ons dit doen, ongeag ons verskillende agtergronde. Ons moet hande vat en saam opstaan teen misdaad om Nigel en die omgewing veiliger te maak,” het hy gesê.

Lede van die gemeenskap kan Ryan kontak indien hulle wil aansluit. Gemeenskapslede kan ook help deur enige kriminele aktiwiteite aan SAPD te rapporteer of sektorleiers in hul area te kontak.

GPF Nigel kontaknommers:

Ryan O’Neill Scheepers (voorsitter Nigel GPF, voorsitter Sektor 2) – 074 377 5154

Karen Bothma (sekretaresse) – 081 499 1207

Sers Zimasa Thusi (SAPS) – 074 940 6480

Rudi Rudolph (hoof van patrolleerders, voorsitter sektor 1) – 083 440 1414

Luitenant Kolonel Louise Droskie (SAPS) – 082 307 4159

Nonjabula Matjie (visie-voorsitter Nigel GPF, voorsitter Sektor 3) – 074 303 2690

Chantelé Potgieter (visie-sekretaresse Nigel GPF, sekretaresse Sektor 1) – 083 620 2586

GPF Nigel webtuiste.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button