Local news

Substasie pompe word afgesit

Geen kommunikasie oor die water probleme in Heidelberg.

Net toe Heidelbergers begin asemhaal ná die vorige waterkrisis, sit hulle weer sonder of met bitter min water.

Rand Water het vir drie weke instandhoudingswerk gedoen en die water op 16 Junie herstel, maar sedert 18 Junie is krane weer droog.

Volgens die Lesedi Plaaslike Munisipaliteit (LPM) se water- en rioolafdeling is die probleem hierdie keer te wyte aan ’n skielike drukval van Rand Water, Gauteng se hoofwaterverskaffer.

Die waterdruk behoort minstens 400 kPa te wees, en die opgaartenks moet 40% vol wees.

Volgens LPM was die druk onder 200kpa – baie laer as wat nodig is om hooggeleë areas normaal te voorsien.

Rand Water is weer ingeroep op 18 Junie en teen 19 Junie was daar ’n bietjie verbetering, met die druk wat tot 350kpa gestyg het. Dit is egter steeds nie voldoende om die hele dorp voluit van water te voorsien nie.

Die DA-munisipale raadslede het besluit om self ondersoek in te stel by die hoofpompstasie.

Rdle Sieg Paul en Yvonne Combrink het gaan ondersoek instel. Ná hul besoek op 19 Junie is vasgestel dat die pomp afgeskakel was.

Rdl Sieg Paul.

Die loodgieters van LPM het vermoedelik die pomp om 17:00 op 18 Junie afgesit en niemand is daarvan in kennis gestel nie.

Tydens die ondersoek het die raadslede LPM gevra hoe daar laat weet kan word dat die waterdruk swak is, as die pomp nie eens aangeskakel was nie.

Die waterdroogte het dele van Bergsig, Jordaan Park, asook Heidelberg-Sentraal geraak.

Tydens die besoek is ook opgemerk dat daar ’n lekkasie by die pomp in die substasie is. Dit is aan die water- en rioolafdelingsbestuurder, Star Moholobela, deurgegee vir dringende aandag.

“As ons nie ondersoek ingestel het nie, sou ons nooit die waarheid geweet het nie. Water is noodsaaklik, en intussen skakel die LPM die pompe sommer af sonder om iemand in te lig,” sê Combrink Wyk 8 Rld.

‘n Waterpomp by die substasie.

Die raadslede soek nou antwoorde van die tydelike munisipale bestuurder, Thobeka Zondi.

“Dit is van uiterste belang dat LPM duidelikheid gee aan ons en die gemeenskap rakende die watersituasie, pompkwessies en die herstelwerk wat nodig is.

“Ons wil ook weet of die agterstallige skuld aan Rand Water betaal is en of LPM op datum is. Ons sal aanhou vrae vra totdat ons ’n eerlike, deursigtige antwoord kry oor ’n saak wat die gemeenskap direk beïnvloed,” sê Paul.
LPM se woordvoerder was genader vir kommentaar, maar geen terugvoer is ontvang nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button