Local newsSchools

Helikopterverrassing vier geliefde skoolhoof se 64ste verjaarsdag by Laer Volkskool

Met gesing, ‘n rooi tapyt en 'n dramatiese aankoms uit die lug, het Laer Volkskool hul skoolhoof op 'n dag gevier wat vir altyd onthou sal word.

Dinsdagoggend, 10 Junie, het Laer Volkskool Heidelberg vir ’n paar minute tot stilstand gekom toe ’n helikopter stadig op die skool se sportgronde neergesak het – alles vir een baie spesiale rede.

Piet Strydom, die skoolhoof, is vroegoggend by die skool ‘ontvoer’, waarna ’n 1958 Cadillac hom opgelaai het. Daarna is sy vrou, Ina, wat by Hoër Volkskool skoolhou, ook opgelaai. Die paartjie is toe na die Heidelberg-vliegveld geneem waar ’n helikopter op hulle gewag het.

Piet Strydom in die 1958 Cadillac motor wat hom vroegoggend by die skool opgetel het. Foto’s verskaf
FOTO: Foto verskaf deur: Teen die muur

Vanuit die lug kon die Strydoms sien hoe die leerders op die rugbyveld ’n hart gevorm het. By die skool aangekom, is daar ’n rooitapyt vir hom uitgelê, en hy is toegejuig met gesang en gelukwense.

Die verrassing is deur die beheerliggaam, onderwysers en leerders gereël om die geliefde skoolhoof se 64ste verjaarsdag op ’n unieke manier te vier.

Piet en Ina Strydom nadat hulle pas geland het op die skoolgrond. FOTO: Fotos teen die muur

“Ons wou iets besonders doen om vir Piet te wys hoeveel ons hom waardeer,” het een van die onderwysers gesê.
“Hy is al vir jare ’n pilaar van hierdie skool – altyd positief, vol energie en geliefd deur almal.”

Die helikopter, wat spesiaal vir die geleentheid gehuur is, het net ná 09:00 geland. Die hele skoolgemeenskap was buite om dié onvergeetlike oomblik saam te beleef.

Daarna is daar ’n spesiale saamtrek in die saal gehou, waar kollegas en leerders hul dank en gelukwense met warmte gedeel het.

Laer Volkskool leerders het in ‘n hart vorm gestaan op die rugbyveld. Foto: Willem Spring.
FOTO: Willem Sprong

Duidelik oorweldig het Strydom gesê: “Ek het al baie verjaarsdae gehad, maar hierdie een sal ek vir altyd onthou. Dankie aan elkeen wat dit moontlik gemaak het. Ek voel geëerd en nederig.”

Met ballonne, koek en hope liefde was dit nie net ’n dag om Strydom te vier nie, maar ook ’n herinnering aan die sterk bande en waardering binne die Laer Volkskool-gemeenskap – ’n dag wat vir lank onthou sal word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button