Nigel-gemeenskap span saam om ma te help ná wiele-diefstal
Sy het haar motor op bakstene gekry, maar ure later was haar geloof in mense herstel.
Wat begin het as ’n skokkende oggend vir Pierina Smit van Nigel, het kort daarna in ’n inspirerende verhaal van gemeenskapsamewerking en ondersteuning verander.
Op die oggend van 12 Junie het Pierina, soos enige ander dag, haar gereed gemaak om haar kind skool toe te neem, maar toe sy by haar voertuig kom, het sy dit op bakstene aangetref.
Al vier die wiele en selfs die wielmoere is gesteel.
“Ek was geskok. Ek het nie geweet wat om te doen nie,” het sy vertel.
“My motor is my brood en botter. Ek bak koeksisters en gebruik dit vir aflewerings. Sonder wiele het ek nie geweet hoe ek sou oorleef nie,” het sy gesê.
Pierina het onmiddellik die Nigel Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) gekontak, wat binne minute opgedaag het om bystand te verleen.
Maar dit wat daarna gebeur het, het die ware gees van gemeenskap ten toon gestel.

Binne ure het plaaslike besighede, lede van die GPF en inwoners van Nigel hul hulp aangebied. Daar is saamgespan om nie net ondersteuning te bied nie, maar ook om vir Pierina vier nuwe bande te voorsien en haar motor weer padwaardig te maak.
“Ek is vir altyd dankbaar teenoor elke persoon wat betrokke was. Dit wys net hoe sterk Nigel se gemeenskapsgees is,” het Pierina gesê.
“Wanneer jy in nood is, sien jy hoe die Here mense rondom jou gebruik om hoop te bring.”
“Ek wil elkeen wat gehelp het, vanuit my hart bedank. Nigel het ’n groot hart, en ek is trots om deel van hierdie dorp te wees.”
In ’n wêreld waar slegte nuus dikwels die voorblaaie haal, wys hierdie voorval dat gemeenskaplike optrede en omgee steeds lewend en kragtig is. Nigel het nie net wiele vervang nie — hulle het hoop herstel.



