Geskiedenis, eer en herinnering kom saam by ou tronk in Heidelberg
Geskiedenis bly behoue vir die nuwer geslag.
Die Heidelberg MOTHS van Suikerbosrand het op 29 Junie hul jaarlikse kransleggingseremonie by die ou tronk in Heidelberg gehou.
Tydens dié geleentheid word eer betoon aan afgestorwe kamerade van die Heidelberg Kommando asook aan dié wat ‘n verbintenis met Heidelberg gehad het.
MOTH Iain McKay het die seremonie geopen en almal verwelkom, waarna ds Quinten Schimper die skriflesing en gebed waargeneem het.

Tony ‘Ou Bill’ Burisch het die gaste vertel van die lede en vriende van Suikerbosrand wat oor die jare heen afgesterf het.
Dié lede was Pieter de Beer, Johan Mulder, Johan Neto, Riaan Hamman, Willem van der Westhuizen en William Leonard.

Pieter Barend de Beer was in 1951 in Vereeniging gebore. Pieter het by die weermag as ‘n permanente lid aangesluit. Hy het sy basiese opleiding by Voortrekker Hoogte, Pretoria gedoen.
Hy was verplaas na 105 Sein Eskader by Potchefstroom. Hier het hy tot die rang van Regiment Sersant Majoor gevorder in 1973.

In 1991 het Pieter na Heidelberg toe gekom, waar hy hoofkantoor Sersant Majoor was.
Hy het in 1996 afgetree. De Beer was ‘n stigterslid van Suikerbosrand Shellhole by die Heidelberg Gymnasium in 1993, voordat dit na die ou tronk geskuif is.
Pieter het op 19 Maart 2021 gesterf.

Johann Martin Mulder was in Uitenhage in 1923 gebore.
Hy het op die ouderdom van 16 jaar by die vloot aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog aangesluit.
Johnny het gekwalifiseer as ‘n MOTH as gevolg van sy diens tydens die Tweede Wêreldoorlog en het eers die Northdene en Hillary Shellholes bygewoon voordat hy by Suikerbosrand Shellhole aangesluit het.

Johann het in 2013 op die rype ouderdom van 90 gesterf.
John Gregorio Gaspar Neto was in 1965 gebore.
Hy was ‘n skolier by Heidelberg Public School. Daarna is hy na Springs Boys High School.
Na skool is hy weermag toe. John was deel van Heidelberg Kommando waar hy in beheer van voertuigherwinning was.

Hy het grensdiens gedoen aan die Namibiese sowel as Mosambiekse grens. John was ook ‘n besigheidsman in Heidelberg waar hy eers ‘n groente- en vrugte winkel in Rensburg en later ‘n slaghuis op die Balfour pad besit het.
John is op 50-jarige ouderdom op 26 Desember 2015 oorlede.
Rian Hugo Hamman was op 26 Desember 1964 in Standerton gebore.
Sy familie het Heidelberg toe getrek waar hy skoolgegaan het by Hoër Volkskool.

Rian het sy weermag opleiding by die Heidelberg Gymnasium gedoen en het op die Namibiese grens diens gedoen.
Hy was ‘n lid van die Heidelberg Kommando en ook lid van die Suikerbosrand Shellhole.
Rian het op 28 December 2017 gesterf.
Willem Van der Westhuizen was gebore in 1947 in Potgietersrus.

Hy het in 1981 by die Rembrandt Tobacco fabriek in Heidelberg as ‘n passer en draaier begin werk.
In 1997 het hy ook by die Heidelberg Brake and Clutch en later by “Ice Cold Bodies” gewerk. Verder was hy ook betrokke by die Geloftefees.
Willie het sy weermagopleiding in Potgietersrus gedoen. Hy het die landsgrense bewaak op die Namibiese grens en was deel van die Heidelberg kommando.
Willie is in 2014 op die ouderdom van 67 oorlede.

William Maurice Leonard was gebore in Heidelberg in 1954. Sy skoolloopbaan was eerstens die plaasskool “Tobie Winterbach” en het by Balfour Hoër Skool in 1972 sy matriek klaargemaak.
Na matriek het hy sy twee jaar weermag opleiding in Middelburg gedoen. Na basiese opleiding was hy gestasioneer by Greeffswald op die Botswana en Zimbabwiese grens.
Maurice het by die Heidelberg kommando aangesluit waar hy tot Majoor gevorder het.
Maurice is op 6 September 2019 oorlede.

Evert Pistorius het die verhaal van Assistent Veldkornet Salmon van As aan die gaste voorgelees.
Tydens die Anglo-Boereoorlog het van As glo ‘n Kaptein Miers doodgeskiet.
Op 23 Junie 1902 is van As deur ‘n Britse hof aan moord skuldig bevind en tot dood veroordeel. Hy was net agter die tronk deur ‘n vuurpeloton tereggestel. Tien Britse soldate was deel van die vuurpeloton.
Van As was eers agter die tronk begrawe maar later herbegrawe in die helde-akker in die Heidelberg Kloof begraafplaas.
Jare later het die Britse regering erken dat hy foutief tereggestel was.
Ian McKay het daarna die name voorgelees van al die gesneuwelde soldate wat aan Heidelberg verbonde was.
Tydens die kranslegging het verskeie familielede kranse gelê vir hul gestorwe geliefdes.
Spesiaal by die kranslegging was Jan van As, ‘n familielid van Salmon van As, wat ‘n krans gelê het.
Van As het vanaf Zimbabwe gekom vir die seremonie.



