SAWV Vier Oupa Willie Pretorius se 90ste Verjaarsdag in Nigel
Met sy 90ste verjaardag het die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV) Eenheid Vlakvark hul beskermheer se bydrae en diens aan die land gevier in die teenwoordigheid van ongeveer 60 gaste.
Die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV) Eenheid Vlakvark, onder leiding van hul voorsitter, Karel Groesbeek, het op 28 Junie die verjaarsdagvieringe van Willie Pretorius (beter bekend as Oupa Willie) in Nigel aangebied.
Ongeveer 60 gaste het die spesiale geleentheid bygewoon. Pretorius het op 26 Junie verjaar, alhoewel die vieringe op 28 Junie plaasgevind het.
Pretorius is op 26 Junie 1935 in Glencoe, Natal, gebore. Sy laerskool- en hoërskoolloopbaan het hy later in Nigel voltooi.

Hy was vir 50 jaar getroud met Deloris, wat intussen oorlede is.
Pretorius het sy weermagloopbaan in 1958 begin, waar hy as ’n marinier in die Suid-Afrikaanse Vloot gedien het.
Daarna was hy vir 17 jaar betrokke by die Weermagkommando, waar hy die rang van stafsersant beklee het.
“Oupa Willie is baie inspirerend,” het Groesbeek gesê.
“Hy mis nie ’n geleentheid nie; of dit begrafnisse, sosiale byeenkomste, jaareindfunksies of vergaderings is.

“Hy is ’n baken en ’n lig wat helder skyn waar hy ook al gaan,” het Groesbeek bygevoeg.
“Oupa Willie het ’n groot passie vir Eenheid Vlakvark, asook vir die gemeenskap van Nigel.
“Hy is trots om saam met talle ander weermagveterane ons land te kon dien en die landsgrense te kon verdedig,” het Groesbeek gesê.
“Ek het vandag so spesiaal en belangrik soos ’n koning gevoel,” het Pretorius tydens die vieringe gesê.
“Dit is voorwaar die grootste partytjie wat ek nog gehad het. Dankie aan elkeen wat dié dag spesiaal vir my gemaak het.”
Pretorius is tans die beskermheer van SAWV, Eenheid Vlakvark.




