Nigel treur oor die verlies van gemeenskapsleier en sakeman ná motorfietsongeluk
Alwyn van den Heever het nooit gewag vir dinge om te gebeur nie – hy het dit gemaak gebeur.
Die Nigel-gemeenskap is in rou ná die tragiese afsterwe van Alwyn van den Heever (56), wat op 24 Junie in ’n motorfietsongeluk gesterf het.
Sy heengaan het ’n groot leemte gelaat in die harte van almal wat die voorreg gehad het om hom te ken – as gesinsman, sakeman, gemeenskapsleier en vriend.
Alwyn is op 30 Augustus 1968 in Nigel gebore en het in 1986 aan Hoërskool John Vorster gematrikuleer. Daarna het hy sy weermagopleiding in Heidelberg en Grootfontein, Namibië, voltooi, voordat hy ’n diploma in Bemarking en Bestuurswese aan die Vaaldriehoek Tegnikon verwerf het.

Sy professionele loopbaan het by die familieonderneming, Nigel Melkerye, begin waar hy vir meer as drie dekades as besturende direkteur gewerk het. Onder sy leiding het die besigheid gegroei tot ’n gevestigde instelling in die streek. Sy leierskap is gekenmerk deur visie, harde werk en diepe toewyding.
Alwyn het in 1996 met Daleen getrou, en die paartjie is geseën met twee dogters – Leanca (26) en Annely (13). Sy gesin was sy anker en trots, en hy het hulle liefdevol sy ‘Vyfster’ en ‘A-trippel-plus’ genoem. Vir hulle het hy alles gegee en saam met hulle elke oomblik gekoester.
Maar Alwyn was veel meer as net ’n sakeman. Hy was ’n man van sy mense. Sy diens aan die gemeenskap het reeds vroeg begin as lid van die Rapportryers. In 2015 het hy as stigterslid van die Nigel GPF opgetree, waar sy passie vir veiligheid en gemeenskapseenheid duidelik sigbaar was.
“Veiligheid en sekuriteit van die gemeenskap waarin hy bly, was nog altyd vir Alwyn ’n prioriteit. Hy het daarin geglo dat dit óns verantwoordelikheid is om na mekaar om te sien,” het sy vrou Daleen vertel. Sy het bygevoeg hoe trots haar man was om te sien hoe die gemeenskap saamkom, die GPF ondersteun, en saam met SAPD misdaad beveg het.
Gedurende die Covid-inperking het hy die innoverende Klokkietrokkie begin – ’n projek wat noodsaaklike goedere by mense se huise afgelewer het, en hoop gebring het in ’n donker tyd.
Hy het hom ook beywer vir verskeie liefdadigheidsprojekte, veral dié wat kinders en skole ondersteun het.

As jarelange vriend van die SA Veterane en aktiewe gemeenskapslid, sal hy met ’n militêre eerbewys tydens sy begrafnis gegroet word – ’n gepaste hulde aan ’n man wat sy lewe in diens van ander geleef het.
Sy vriende onthou hom as ’n energieke en avontuurlustige mens – ’n man wat nie stil kon sit nie, en altyd op soek was na die volgende uitdaging. Hy het ’n passie vir vlieg gehad, sy Private Pilot Licence (PPL) voltooi, en was gereeld op sy motorfiets of langs die water met ’n visstok in die hand.
Sy WhatsApp-statusse het dikwels sy avonture gedeel, tot groot vermaak van almal wat hom gevolg het.
Alwyn was ook ’n begaafde musikant. Min mense het geweet dat hy op gehoor kon klavier en kitaar speel – met ’n sielvolle stem daarby.
Hy het altyd tyd gehad vir ’n grappie of ’n geselsie, en sy vriendelikheid was aansteeklik. Met sy geliefde honde as metgeselle kon ’n mens hom daagliks in Nigel se strate sien – altyd vriendelik, altyd naby aan sy mense.
Vir Daleen is daar soveel kosbare herinneringe.
“Ons kon ’n sewe-dag vakansie binne vyf dae afhandel. Hy kon vir ure lank saam sy jongste dogter skaak speel. Hy was altyd op soek na ’n avontuur, en sy dogters kon hom om hul pinkies draai,” het sy vertel.
“Alwyn het nie geskroom om twee-uur in die oggend iemand te gaan help as daar ’n oproep kom nie. Ek dink sy diensbaarheid aan die gemeenskap – sonder om iets terug te verwag – het mense geïnspireer,” het sy bygevoeg.
“Ons moet nie terug sit en wag dat iemand iets vir jou doen nie. Ons is verantwoordelik vir onsself en mekaar,” is die woorde van Alwyn wat by haar sal bly.

Nigel het ’n reus verloor – nie net in gestalte nie, maar in gees. Alwyn van den Heever se nalatenskap is een van diens, liefde, aksie en eerlikheid. Hy het mense bemagtig, strukture gebou, lewens geraak, en vriendskappe gesmee wat dekades lank sal voortleef.
Hy het geglo dat ’n mens net 75 somers kry – en daarom elke dag moet laat tel.
Alwyn het voluit geleef. Sy stem, sy leierskap en sy teenwoordigheid sal vir altyd gemis word.
Marius Fox van Burgerlike Beskerming in Nigel het die volgende huldeblyk aan Alwyn opgedra:
“In 2013 wou Alwyn Nigel ’n veiliger plek maak en hande vat saam met die gemeenskap. Hy het gehelp dat die radios in plek kom vir kommunikasie, dat daar vergaderings is om alles te organiseer, en gevolglik het Nigel op ’n groot skaal misdaad bekamp. Alwyn het altyd gehelp waar hy kon en het niemand ooit uitgesluit nie. Hy het ook radios verskaf aan dié wat dit nie kon bekostig nie.
“Burgerlike Beskerming, die GPF, sekuriteitsorganisasies en veral die gemeenskap het net respek gehad vir hom. Hy was soos ’n pa vir baie van die jonger manne. Hy gaan beslis gemis word – en ons salueer hom as mens en as inwoner van Nigel.”
Daleen se boodskap aan haar man:
“Ek wens jy kan sien hoe baie lewens jy aangeraak het. Dankie dat jy so mooi na ons gekyk het, en vir al die avonture en bederf. Ons gaan jou oneindig baie mis. Rus in vrede, Alwyn. Jy het jou wedloop met eer voltooi.”



