Local news

Nigel-ma en baba ontsnap beserings toe motor deur heining jaag

’n Gewone nag het in paniek ontaard vir ’n jong gesin van Nigel toe ’n motor in die vroeë oggendure van Saterdag deur hul heining gebars het.

’n Rustige, gewone nag het in ’n skrikwekkende ervaring ontaard vir die Ciuffana-gesin van Northernweg 95 in Nigel, toe ’n motor in die vroeë oggendure van Saterdag 12 Julie deur hul heining gebars het.

Cindy Ciuffana was omstreeks 01:00 in die sitkamer besig om haar baba, klein Ethan, te voed toe sy skielik remgeluide en ’n harde slag hoor.

Net sowat 2m van waar sy gesit het, het ’n wit motor deur die heining gebars en tot stilstand gekom reg voor hul voordeur.

“Ek het dadelik my man gaan roep, want ek het iemand in die voertuig gesien,” het Cindy vertel.

“Maar teen die tyd wat hy by die motor kom, was daar niemand meer binne nie.”

Die wit motor wat Ciny Ciuffana sowat 2m vanwaar sy haar baba in die sitkamer gevoed het, gevind het.

’n Voetganger in die straat het aan haar verduidelik dat hy gesien het hoe ’n man met ’n geel hemp uit die voertuig spring en van die toneel af wegvlug.

Die huiseienaar het die voorval by die Nigel-polisie aangemeld, en die saak word tans ondersoek.

Omstreeks 10:00 dieselfde oggend het twee onbekende mans by die huis opgedaag en aangebied om die beskadigde heining te herstel. Dit is egter onduidelik of hulle enige verband met die voorval het.

“Dit was ’n traumatiese ervaring. Die motor het letterlik net ’n paar meter van ons af tot stilstand gekom. Ek en my baba kon ernstig beseer gewees het. Ons is net baie dankbaar dat niemand seergekry het nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button