Hartsmense en hande wat help: VLU maak ’n verskil in Heidelberg
Ontmoet Susan Smit, voorsitter van die VLU Rensburg-tak, wat met haar span vroue bemagtig, die gemeenskap dien en tradisies laat voortleef.
Tussen haar liefde vir mense, kultuur en gemeenskapsdiens is dit duidelik waarom Susan Smit, voorsitter van die VLU Rensburg-tak, ‘n bekende en geliefde gesig in Heidelberg is.
Susan en haar man Tertius het in 2008 van die Paarl na Heidelberg verhuis.
Sy vertel: “Ek het dadelik by die VLU aangesluit en ook by die kerk betrokke geraak. Só leer jy gou mense ken, en dan word jy deel van ‘n groter gemeenskap.”
Die Smit-egpaar het twee kinders, Jurgens en Carine, en is diep gewortel in hul nuwe tuisdorp.
Vir Susan was die VLU van die begin af ‘n plek van tuiskoms.
“Die VLU het my dadelik by hulle werksaamhede betrek. Dit bied aan vroue die geleentheid om deel te wees van die gemeenskap, om hulself te bemagtig en om ander se behoeftes raak te sien.”
Die VLU se jaarlikse projekte het altyd ‘n spesifieke fokus. In 2025 is die tema ‘hartsmense’, met spesiale aandag aan die senior burgers van Heidelberg.
“Ons het saam met die ATKV en Solidariteit Helpende Hand ‘n geleentheid by Sedaven aangebied,” verduidelik Susan.
“Met Moedersdag en Vadersdag het ons geskenke daar uitgedeel.”
Verder ondersteun die tak ook die SAVF en versamel tans lees- en inkleurboeke vir kinderhuise. Die winterprojek, Bottels of Hope, in samewerking met die NG Kerk Suikerbosrand, het sopmengsels uitgedeel aan behoeftige inwoners.
Een van die grootste uitdagings, sê Susan, is om nuwe lede te werf.
“Vroue is belangrike skakels in gesinne, maar tyd en finansies maak dit moeilik om aan buitemuurse aktiwiteite deel te neem.”
Tog bly die VLU ‘n ruimte waar vroue vriendskap, ondersteuning en groei beleef.
Onder die aktiwiteite tel tegnologie, fotografie, blomrangskikking, kunsvlyt, borduurwerk, naaldwerk, asook bewusmaking van omgewingsake.
“Ons leer tradisionele én moderne vaardighede aan, ‘n kombinasie wat help om by vandag se wêreld aan te pas.”
Geloof, kultuur en tradisie is die grondslag van die organisasie, en dit kom tot uiting in alles wat hulle aanpak.
“Ons nooi jong vroue en nuwe inwoners uit om te kom kuier en self te sien wat ons doen. Ons vergader maandeliks waar ons ervarings deel, leer by mekaar, kompeteer en veral groei as vroue wat ‘n verskil wil maak.”
Een van Susan se hoogtepunte was toe die Rensburg-tak tydens die 2025-konferensie die meeste kompetisiepunte behaal het, én aangewys is as die lid met die meeste punte.
Met hoop en visie kyk Susan na die toekoms: “My droom vir Heidelberg is dat ons as gemeenskap nader aan mekaar sal leef, mekaar sal ondersteun en dat die VLU ‘n platform sal bly waar vroue hul plek volstaan met trots en passie.”
Om aan te sluit by die VLU Rensburg-tak, kontak Susan by 084 568 2837.



