Local news

Heidelberg Hope gee nuwe lewe aan die Blesbokspruit

Heidelberg Hope het hul 67 minute in diens van die dorp gestel.

Op Mandela Dag, 18 Julie, het die nie-winsgewende organisasie Heidelberg Hope hul moue opgerol en daadwerklik ’n verskil gemaak deur die Blesbokspruit in Ueckermannstraat op te ruim, ter ere van Nelson Mandela se nalatenskap van diensbaarheid en gemeenskapsgees.

Hoewel die inisiatief bedoel was as ’n samekoms van die gemeenskap om 67 minute van hul tyd op te offer, was dit tragies om te sien dat slegs Heidelberg Hope se toegewyde helpers opgedaag het.

Die res van die dorp het afwesig gebly, ’n feit wat Nicolene Neveling van Heidelberg Hope met hartseer noem.

Vrywilligers van Heidelberg Hope maak die Blesbokspruit en omliggende area skoon op Mandela Dag.

“Ons word nie betaal om hierdie dienste in die dorp te verrig nie,” het Neveling verduidelik.

“Ons doen dit omdat Heidelberg vir ons belangrik is. Die dorp se skoonheid en potensiaal lê ons na aan die hart, maar sonder ondersteuning is ons hande gebind.”

Heidelberg Hope is afhanklik van vrywilligers en ’n handjievol borge wat finansiële ondersteuning bied, maar die dryfkrag agter hul projekte bly hul liefde vir die dorp en sy mense.

Nicolene moedig inwoners en plaaslike organisasies aan om betrokke te raak, hetsy deur hande vuil te maak of deur idees en hulpbronne te bied om die dorp opnuut tot sy reg te laat kom.

“Ons is in die gemeenskap en vir die gemeenskap,” het sy vasberade gesê. “Mense wat saamstaan, maak beslis ’n verskil.”

Heidelberg Hope vrywilligers het hul 67 minute vir Mandela Dag opgeoffer om die Blesbokspruit in Ueckermannstraat skoon te maak.

In ’n ligter noot het Heidelberg Hope tydens die Mandela Dag-projek hul nuwe gelukbringer aan die gemeenskap bekend gestel: ’n vrolike kuiken wat deel sal vorm van hul veldtogte en projekte om jongmense te betrek.

Die kuiken het egter nog nie ’n naam nie, en ’n kompetisie word beplan waar skole genooi sal word om kreatiewe voorstelle in te dien.

Hierdie inisiatief het ten doel om jong leerders bewus te maak van gemeenskapsbetrokkenheid én hul kreatiwiteit aan te moedig.

Hoewel Mandela Dag vanjaar nie die gemeenskapsgees op die oppervlak weerspieël het nie, glo Heidelberg Hope steeds vas dat betrokkenheid moontlik is.

“As almal net hul klein deel doen, kan ons ’n groter impak maak as wat ons dink,” sê Neveling.

Kontak Nicolene Neveling by 072 840 0205 en wees deel van ’n groep mense wat eerder bou as kla. Die dorp wag op jou.

So lyk die Blesbokspruit in Ueckermannstraat nadat Heidelberg Hope die area skoon gemaak het op Mandela Dag.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button