Veronika Olivier is die hartklop van Heidelberg se kunslewe
Met ’n naald, verfkwas en groot visie verander Veronika Olivier nie net doeke nie, maar ook lewens in en om Heidelberg.
HERAUT leer hul mense ken en het die week by plaaslike kunstenaar Veronika Oliver gaan kuier.
In die rustige strate van Heidelberg woon ’n kunstenaar wie se kreatiwiteit die dorp begin kleur gee.
Veronika (56), ‘n gevestigde teksielkunstenaar, het saam met haar man, Willem, in 2011 hul intrek geneem in ‘n erfenishuis wat reeds150 jaar oud is. Hier het sy nie net ’n huis gevind nie, maar ’n ruimte waar kuns en gemeenskap hand aan hand groei.
Gebore met ’n kwas in die hand
Veronika se kreatiewe reis het al begin voordat sy self daarvan bewus was. Van kleins af was sy omring deur kreatiewe invloede – haar ouma het haar geleer om naaldwerk te doen op ’n handmasjien, wat later haar liefde vir tekstielkuns aangewakker het.
Op skool was kuns en geskiedenis haar gunsteling vakke. Hoewel sy geen formele kunsopleiding het nie, het sy haarself deur jare van selfstudie opgelei en verfyn.
Sy het aanvanklik bemarking gestudeer – ’n vaardigheid wat vandag help om haar kuns suksesvol te bemark, veral internasionaal.
‘n Kunstenaar sonder grense
As multi-dissiplinêre kunstenaar werk sy met ‘n verskeidenheid media – van verf en herwinde plastiek tot beeldhouwerk en tekstiel.
“Ek hou daarvan om te eksperimenteer en mediums te meng,” sê sy.
Haar werk dra ‘n sterk boodskap van volhoubaarheid, en sy gebruik graag herwinde materiale soos plastiek om bewustheid rondom die omgewing en verbruik aan te wakker.
Sy het al in verskeie publikasies en TV-programme verskyn, insluitend Kwêla, Goeiemore Good Morning en Kunsvlyt. Haar werke is internasionaal uitgestal in onder meer Melbourne, Australië.
Balans tussen huis, honde en handwerk
As sy nie in haar ateljee is nie, is Veronika steeds besig om kreatief te leef. Sy en haar man werk saam aan hul huis se dekor en opknappings, wat ’n konstante bron van inspirasie is.
“Ek koop selde iets nuuts. Ek verkies om bestaande dinge kreatief te hergebruik,” vertel sy.
Haar Franse poedels is ook ’n kosbare deel van haar lewe.
Sy geniet kosmaak, flieks en dokumentêre wat haar inspireer.
Hoewel sy gereeld werkswinkels aanbied en dikwels reis om kunsklasse te fasaliteer, probeer sy steeds balans vind tussen werk en rus.
“My beste werk vloei uit ’n plek van balans en vrede,” sê sy met ’n glimlag.
’n Verbintenis aan die gemeenskap
Veronika is diep verbind aan haar dorp en glo vas in samewerking.
Sy het onlangs die Suikerbosrand Kunsvereniging gestig om kunstenaars van Heidelberg en omliggende gebiede, insluitend Ratanda, te ondersteun en te ontwikkel.
Met behulp van fondse uit haar eie kunsverkope en borgskappe van plaaslike ondernemings soos Plaashuiswinkel en Oak View Manor, help sy om kunsmateriaal en klasse beskikbaar te maak vir opkomende kunstenaars.
“Ek glo in die potensiaal van elke mens — soms het hulle net ’n bietjie aanmoediging en ’n paar potlode nodig,” sê sy met oortuiging.
’n Boodskap aan jong kunstenaars
Vir jong of beginnende kunstenaars het Veronika bemoedigende woorde: “Moenie bang wees om stadig te groei nie. Neem jou tyd, moenie jouself vergelyk nie. Begin waar jy is, met wat jy het. Jou stem sal met tyd al hoe duideliker word, solank jy net aanhou skep.”
Veronika is nie net ’n kunstenaar nie; sy is ’n gemeenskapsbouer, mentor en inspirasie. Haar storie is ’n bewys dat kreatiwiteit nie net ’n talent is nie, maar ’n manier van leef, van gee, en van hoop bring – kwas vir kwas.
Vir meer inligting, kontak Veronika by 082 806 1191.



